Opinion | Nierassigheid is hoe die DA én SA kan vorder

Issued by Helen Zille – DA Federal Council Chairperson
10 Sep 2020 in News

Ek weet nie of ek geamuseerd of gevlei moet voel deur Johann Maarman in Die Burger (07.09) se vergelyking van my met Margaret Thatcher nie. Sy was immers een van die invloedrykste vroue van die 20ste eeu, wat die gang van haar land dramaties verander het.

As Maarman ernstige bewyse vir hierdie vergelyking sou lewer, sou ek gevlei wees. Maar sy artikel is so deurspek met onwaarhede en is so ongegrond dat dit net bespotting uitlok. Die kern van sy “analise” is dat ek die gemene deler is in die besluit van vier DA-lede om die party die afgelope ses jaar te verlaat.

Die oorsaak van Maarman se skrywe is duidelik die besluit van die voormalige Gautengse DA-leier John Moodey om die skip te verlaat voordat hy deur verwoestende aanklagte oor onder meer beweerde omkopery en afpersing in die gesig gestaar moes word. Dié saak, een van die ernstigste sake wat al voor die party se federale regskommissie gedien het, word ondersteun deur bandopnames en dokumentêre bewyse.

Dit is nie verbasend dat Moodey die beproefde “raskaart” gebruik het om die werklike redes vir sy skielike uittog te verdoesel nie. Hoe vals dit ook al mag wees, hierdie beskuldiging van rassediskriminasie werk altyd met die media.

Maarman is geen uitsondering nie. Hy beweer ook dat ek agter die uittog van Lindiwe Mazibuko gestaan het toe sy in 2014 besluit het om uit te tree as parlementêre leier.

Volgende is Patricia de Lille, Mmusi Maimane en Herman Mashaba. Almal was blykbaar my ongelukkige slagoffers. Dis so absurd dat dit lagwekkend is.

Wat is die feite? Kom ons begin met Lindiwe: Dit is alombekend hoe sterk ek haar ondersteun het om parlementêre leier te word.

Dit was die ideale platform vir ’n jong politikus om vinnig opgang te maak om uiteindelik die federale leier te word.

Maar sy het binne twee kort jaar ’n beduidende meerderheid van haar koukus vervreem. Die Harvard-beurs het haar in staat gestel om met waardigheid weg te stap en ’n nederlaag in die volgende koukusverkiesing te vermy.

Dan Patricia de Lille: As politieke joernalis moet Maarman weet dat ek geskors was uit die DA gedurende die hele periode van die DA se uitgebreide konfrontasie met Patricia.

Ons persoonlike verhouding het gedurende hierdie moeilike tydperk hartlik en professioneel gebly.

As dit by Mmusi Maimane kom, lê die basis vir sy bedanking in ’n verslag van ’n ondersoek wat hy ná ons terugslag in die 2019-verkiesing self aangevra het na die oorsake van ons agteruitgang. Die verslag moes ook aanbevelings maak, en daar is bevind dat die oorheersende rede vir ons afname in die verkiesing swak leierskap was. Toe die federale raad die verslag en aanbevelings aanvaar, en ek verkies is tot voorsitter van die federale raad, het Mmusi sy kans benut en vertrek – en natuurlik die raskaart gespeel. Dit is ’n gewaarborgde manier om die media van die werklike redes af weg te lei.

En Mashaba? ’n Paar maande voor sy uittrede het hy my op sosiale media geprys, asook die benadering van nierassigheid.

Die resultaat van die media se vlak analise, ironies genoeg, is om my in ’n baie kragtiger figuur te verander as wat ek regtig is.

Maar ek sal alles in die stryd werp om nierassigheid as ’n beginsel te verdedig – om elke persoon te beoordeel volgens die inhoud van hul karakter eerder as die kleur van hul vel (in die beroemde woorde van Martin Luther King Jr.).

As King daardie toespraak vandag sou gelewer het, sou hy vir ’n rassis uitgekryt gewees het. In sy tyd was nierassigheid ’n progressiewe politieke filosofie. En, volgens die DA, is dit nog steeds so.

Die gebeure van die afgelope vyf jaar binne die DA het my weer eens gewys dat dit die grondslag is waarop die party, en nog belangriker, Suid-Afrika, kan vorder.