DA publiseer bewyse van US-rektor Wim De Villiers se aanval op moedertaalonderrig

Issued by Dr Leon Schreiber LP – DA Kiesafdelingshoof: Stellenbosch
18 Oct 2020 in News

Die Demokratiese Alliansie (DA) publiseer vandag die volle rekord van getuienis wat ingesamel is tydens oudregter Burton Fourie se ondersoek oor die rektor van die Universiteit van Stellenbosch (US), professor Wim de Villiers, se pogings om ‘n regter van die grondwetlike hof, Edwin Cameron, te oorreed om ‘n nominasie te aanvaar om die universiteit se volgende kanselier te word.

Die getuienis toon dat De Villiers inderdaad deurlopend gesprekke gevoer het met Cameron – en selfs een keer ‘n geheime ontmoeting met Cameron gehad het – terwyl De Villiers ‘n respondent was in die grondwetlike hofsaak oor die afskaffing van Afrikaans as ‘n gelyke onderrigtaal aan die US. Kort na die reeks gesprekke tussen De Villiers en Cameron, het Cameron die uitspraak gelewer wat moedertaalonderrig in inheemse tale aan die US keelaf gesny het.

Die getuienis wat die DA vandag publiseer, kom nadat die US aanvanklik op ‘n onwettige wyse probeer het om dit van die publiek weg te steek. Dit het die DA genoop om ‘n hofsaak te loods, met die Wes-Kaapse Hooggeregshof wat gelas het dat die US geen reg het om die getuienis geheim te hou nie.

Die DA is veral bekommerd oor die roekelose en neerhalende opmerkings wat De Villiers tydens sy onderhoud met Fourie oor moedertaalonderrig gemaak het. De Villiers verwys onder andere na “Gelyke Kanse en mense wat hulle ondersteun en die media – Afrikaanse media” as ‘n “groep wat ‘n pre-1990 provinsiale insulariteit nastreef”. Hy verwerp ook die behoefte onder miljoene Afrikaanssprekendes om hul grondwetlike reg op moedertaalonderrig uit te oefen as ‘n “geloofsaak” en ‘n “saak van die Evangelie.”

Tydens sy onderhoud met Fourie voer De Villiers verder aan dat hy “nie geweet het” dat Cameron “betrokke is by hierdie [hofsaak oor die afskaffing van moedertaalonderrig] nie.” Hierdie bewering word egter direk weerspreek deur ‘n WhatsApp-boodskap wat De Villiers op 22 Augustus 2019 gestuur het aan ‘n groep US-alumni, waarin hy prontuit gesê het: “Edwin C. is wel nog betrokke by die skryf van die uitspraak (3-6 maande vanaf 8 Aug).”

Dit is tog totaal verregaande dat die rektor van ‘n universiteit aanvoer dat hy so onbevoeg is dat hy nie eers weet wie op die grondwetlike hof dien nie. Soos sy eie WhatsApp-boodskap duidelik bewys, was De Villiers ten volle bewus van Cameron se betrokkenheid by die saak oor Afrikaans.

Dit is ook opvallend dat die voorsitter van die US-raad, George Steyn, De Villiers kritiseer vir sy “voortvarendheid”. Steyn voer aan dat “die hele taal-saga” begin het “met ‘n uitlating [deur De Villiers] . . . waar hy teen die statuut opgetree het”. Volgens Steyn was “daardie voortvarendheid . . . ook betrokke” tydens De Villiers se pogings om Cameron te oorreed om kanselier te word te midde van ‘n grondwetlike hofsaak waarby De Villiers direk betrokke was.

Die getuienis van die Fourie-ondersoek maak dit duideliker as ooit dat die huidige US-bestuur, onder leiding van De Villiers, op ‘n arrogante en roekelose wyse neersien op moedertaalonderrig. In die proses het hulle miljoene Afrikaanssprekendes se grondwetlike reg op moedertaalonderrig aktief ondermyn.

Die DA glo dat ons ‘n sterk saak sal hê indien ons die Fourie-verslag op hersiening neem, en ons behou ons reg voor om dit te doen. Maar die realiteit is dat die uurglas besig is om vinnig leeg te loop vir moedertaalonderrig, ook aan die US. Daar is eenvoudig nie meer tyd vir hofsake wat jare lank sloer nie.

Wat eerder nou nodig is, is dat elke persoon wat glo in die waarde van moedertaalonderrig opstaan en daarop aandring dat die US begin om Afrikaanse studente net so waardig te ag as Engelssprekende studente. En die DA gaan in die heel voorste linie hiervoor veg. Die US se reëls stipuleer dat die taalbeleid volgende jaar hersien moet word, en die DA is reeds besig om voorbereidings te tref vir ‘n historiese en ongekende politieke veldtog om te eis dat Afrikaans gelykgestel word met Engels aan die US.

Ons vra dat elke persoon wat glo dat Afrikaanse studente se regte net so belangrik is soos die regte van Engelse studente, met ons hande vat vir die geveg wat voorlê in Stellenbosch. Hou hierdie spasie dop.

Die dokumente kan hier, hier, hier, hier, hier, hier, hier en hier gevind word.