DA verwelkom Menseregtekommissie-ondersoek van ons klagte teen die Universiteit Stellenbosch oor taal-diskrimminasie

Issued by Dr Leon Schreiber LP – DA Kiesafdelingshoof: Stellenbosch
07 May 2021 in News

Die DA verwelkom die ondersoek deur die Menseregtekommissie na die voortgesette diskriminasie teen Afrikaans by die Universiteit Stellenbosch.

Die DA het vroeër vanjaar die klag by die kommissie aanhangig gemaak oor die universiteit se taalbeleid, nadat dit aan die lig gekom het dat studente al meer op die kampus verbied word om Afrikaans te praat. Eerstejaars by verskeie koshuise is verbied om in Afrikaans in hul koshuiskamers te praat, en die verbod is blykbaar selfs op WhatsApp-groepe en parkiebanke op kampus toegepas.

Op grond van die DA se klag, gaan die MRK nou die mate ondersoek waartoe die US se diskriminerende optrede Afrikaanssprekende studente se regte tot gelykheid op grond van taal, ras of op enige ander ongrondwetlike wyse geskend het. Die ondersoek van die MRK kom op die regte tyd aangesien volgehoue klagtes aan die universiteitsbestuur – en spesifiek aan rektor Wim de Villiers – aanhoudend op dowe ore val.

De Villiers se moedswillige swyging gaan egter nou tot ’n einde kom wanneer die Mensregtekommissie Maandag 10 Mei om 10:00 met hul ondersoek in Kaapstad begin.

Die kommissie het aangedui die leierskap van die universiteit, insluitende De Villiers, sal moet getuig, sowel as ander partye wat by die saak betrek is.

Die DA sal self by die verhoor teenwoordig wees om De Villiers se getuienis te monitor. Ons sien voorts ook uit om self te getuig en om Afrikaanse studente op hul beurt te help om húl stem te laat hoor.

Dit is ook nou ’n gulde geleentheid vir die MRK om die rol van die unversiteit se 2016-taalbeleid te ondersoek, aangesien hierdie beleid amptelik aan Afrikaans ’n mindere status as onderigtaal toegeken het. Dit is die 2016-beleid se weiering om aan Afrikaans gelyke status naas Engels te gee wat die atmosfeer geskep het vir die diskriminasie teenoor Afrikaanssprekende studente selfs in private ruimtes.

Dit is ’n ontseenseglike feit dat moedertaalonderrig van uiterse belang is vir die sukses van studente. Dit is ook die grondwetlike reg van alle Suid-Afrikaners om hulself uit te druk in hul moedertaal en om onderrig te ontvang in die taal van hul eie keuse. Die DA sal daarom die MRK-ondersoek deurlopend monitor om te verhoed dat studente wat voor die kommissie getuig beskerm word teen verdere intimidasie of viktimisering deur die US-bestuur.

Local Government Elections are coming up in 2021! Visit check.da.org.za to check your voter registration status.