Die beriggewing in hierdie week se Afrikaanse koerante was insiggewend. Onder die nuus-afdeling was daar onlangs twee artikels oor die DA se protesaksie in Pretoria teen Blade Nzimande se klassifisering van Afrikaans as “uitheems.” Tydens die betoging het DA-leier John Steenhuisen ‘n petisie met meer as 5 500 handtekeninge aan Nzimande oorhandig met die eise dat Afrikaans se status as ‘n inheemse taal erken word, dat universiteite se taalbeleide dienooreenkomstig aangepas word om Afrikaans as inheemse taal te erken, en dat Nzimande aan die groot en diverse Afrikaanse gemeenskap om verskoning vra vir sy haatlike miskenning van Afrikaans.
Die petisie was maar net die nuutste stap in die DA se volgehoue veldtog oor hierdie kwessie, waartydens ons reeds herhaaldelik aan Nzimande geskryf het en ook ‘n klag by die Menseregtekommissie gelê het.
Op dieselfde dag dat die DA ons protesaksie teen Nzimande gehou het, verskyn daar ‘n meningstuk deur VF Plus-LP, Dr. Corné Mulder. Die opskrif en selferkende doel van Mulder se artikel was om die DA se werk ter bevordering van Afrikaanse taalregte – insluitend die protesaksie teen Nzimande – as “verdag” te probeer afmaak. In sy artikel spandeer Mulder honderde woorde daaraan om ou koeie op te grawe as ‘n verskoning om die DA aan te val.
Die kontras is treffend. Die nuusartikels vertel die storie van die DA: ‘n Party wat elke dag werk om dinge gedoen te kry, ook vir Afrikaans. Dis die storie van ‘n party wat uit sy foute geleer het en weer op koers is, en wat ons energie daaraan wei om terug te veg teen Blade Nzimande en ANC-meelopers soos Wim de Villiers se aanslag teen Afrikaans. Bowenal vertel dit die storie van ‘n groot party wat daarop gefokus is om opposisiekiesers te verenig teen die gevare van die ANC en EFF.
Terwyl die DA ons moue oprol en elke dag werk om prakties dinge vir Afrikaans gedoen te kry, vertel Mulder se meningstuk ‘n ander, tragiese storie. Die storie van die VF Plus het ongelukkig ontaard in een van ‘n klein en desperate party wat alles in die stryd werp om die opposisie tot voordeel van die ANC te verdeel.
Dit het die storie geword van ‘n party wat aartsopportuniste soos Peter Marais en Lennit Max oornag in magsposisies plaas ten koste van lojale partylede. En dis die storie van ‘n party wat nie net geheel en al afwesig is in die stryd teen die ANC en vir die toekoms van Afrikaans nie, maar wat nou ook aktief en openlik werk om die DA se stryd vir Afrikaans en teen die ANC “verdag” te maak.
Op neerbuigende wyse so kenmerkend van ‘n moeë en afgeleefde loopbaan-politikus lank verby sy vervaldatum, wei Mulder sy ganse meningstuk daaraan om die DA se foute te probeer uitwys sonder om ‘n enkele konstruktiewe woord te skryf. Dit is deesdae kenmerkend van die VF Plus se styl. Tewens, terwyl die DA opstaan teen Nzimande, was die VF Plus se enigste reaksie tot dusver op die klassifisering van Afrikaans as “uitheems” om vir Nzimande méér ammunisie te gee met hul verklaring dat “die uitheemse kenmerke van Afrikaans duidelik is.”
Besef die party werklik nie dat hierdie wanklassifisering aan mense soos Panyaza Lesufi en Wim de Villiers hope nuwe skietgoed gaan gee om Afrikaanse onderrig verder af te skaal nie? Of is Mulder eenvoudig so obsessief daaroor om die DA te verswak en die opposisie te verdeel dat hy bereid is om die ANC se hand teen Afrikaans te sterk?
Dieselfde patroon is ook te sien by die oorlewingstryd wat Afrikaans tans aan die Universiteit van Stellenbosch (US) voer. Dit is die DA wat reeds vir jare lank bystand lewer aan Afrikaanse studente wie se reg tot moedertaalonderrig vertrap word. Dit is DA-leier John Steenhuisen wat dadelik op kampus was om studente te ondersteun nadat hul vroeër vanjaar verbied is om Afrikaans in koshuise en selfs op parkiebanke te praat. Dit is die DA wat klagtes by die Menseregtekommissie hieroor aanhangig gemaak het. En dit is die DA wat tans voorberei om Wim de Villiers wetlik aanspreeklik te hou vir al hierdie vergrype.
En die VF? Nee wat, hul prioriteit is om die geveg vir Afrikaans op Stellenbosch “verdag” te probeer maak.
Dit is uiteraard die VF Plus se volste reg om langs die kantlyn te staan oor die toekoms van Afrikaans. Dis ook hul volste reg om soos ware luiaards dit aan die DA oor te laat om manalleen op te staan vir die regte van Afrikaanssprekendes. Maar wat heeltemal onaanvaarbaar is, is dat Mulder en die VF Plus aktief die ANC bevoordeel en téén die belange van Afrikaans werk in hul desperate poging om die DA “verdag” te maak.
Mens vermoed dat die VF Plus se opvallende desperaatheid in hierdie verkiesingsjaar juis voortspruit uit die besef dat die DA lankal nie meer dieselfde party as in 2019 is nie. Onder die leierskap van John Steenhuisen en Helen Zille is die DA weer voluit op koers as ‘n party wat veg vir alle Suid-Afrikaners – insluitend die miljoene Afrikaanssprekendes wat oor die jare hul stemme aan ons toevertrou het.
Alhoewel dit hartseer is om te sien hoe sy party verval het in ‘n desperate anti-DA paranoia, is Mulder reg om bekommerd te wees. In die ewige woorde van Boy Louw: looks at the scoreboard. Daar sal almal vinnig sien dat terwyl die VF Plus uit suiwer desperaatheid alles in die stryd werp om die DA “verdag” te maak tot voordeel van die ANC, is die DA die enigste party wat dag-na-dag teen die ANC opstaan ter beskerming van Afrikaans.
Hierdie nuutste jammerlike episode is tekenend van die gevaar wat die VF Plus se nuwe politieke strategie vir Suid-Afrika inhou. Mulder het met sy meningstuk bevestig dat dit hul doel is om die DA deur “verdagmaking” te verswak. As die VF Plus slaag in hierdie oneerlike poging, gaan dit die deur wawyd oopmaak vir die ANC om beheer te neem van selfs meer munisipaliteite, met die EFF as amptelike opposisie.
Dit verg geen verdagmaking om die katastrofiese gevolge van hierdie strategie in te sien nie.