DA behaal historiese oorwinning deur ANC te dwing om Afrikaans, Khoi en Santale as inheems te erken

Issued by Dr Leon Schreiber LP – DA Kiesafdelingshoof: Stellenbosch
11 May 2022 in News

Vind asseblief aangeheg ’n klankgreep van Dr Leon Schreiber LP. Kliek ook hier vir die Engelse klankgreep.

In ‘n historiese oorwinning vir die beskerming en bevordering van Suid-Afrika se kulturele- en taaldiversiteit – en vir die sprekers van Afrikaans sowel as Khoi en San tale in besonder – het meer as ‘n jaar van harde werk deur die Demokratiese Alliansie daarin geslaag om die Minister van Hoër Onderwys, Blade Nzimande, se departement te dwing om te erken dat hierdie tale inderdaad inheems aan Suid-Afrika is.

Die bevestiging dat die DA die heeltyd reg was met ons veldtog om die nasionale ANC regering te dwing om die inheemse status van Afrikaans, Khoi en Santale te erken het gekom in die vorm van ‘n regsmening wat Nzimande op 11 Oktober 2021 ingewin het. Nzimande se kantoor het uiteindelik die regsmening met ons gedeel nadat die DA gister ‘n appèl in terme van die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (“PAIA”) ingedien het, na Nzimande se vroeëre weiering van ons oorspronklike versoek van 16 Januarie 2022.

Die dokument noem uitdruklik dat “die versoek vir die mening gekom het na vrae wat geopper is deur Dr L.A. Schreiber (DA Lid van die Parlement)” aan Nzimande. Dit beveel verder aan dat Nzimande die Taalbeleidsraamwerk vir Hoër Onderwysinstellings, wat op 1 Januarie 2022 in werking getree het, moet wysig om die inheemse status van hierdie tale te erken.

Nadat die regsmening ‘n oorsig bied van die relevante wetlike presedente – en soos die DA nog die heeltyd aanvoer – bevestig die dokument dat “dit duidelik is dat die Grondwetlike Hof Afrikaans as ‘n Afrika-taal erken wat inheems is aan Suid-Afrika.” Die regsmening bevestig verder dat “Die uitsluiting van Afrikaans as ‘n inheemse taal in die Taalbeleid is onversoenbaar met die Grondwetlike Hof se beskouing van Afrikaans as ‘n inheemse taal.”

As gevolg van hierdie bevinding, beveel die regsmening ook dieselfde oplossing aan wat die DA reeds meer as ‘n jaar gelede aan Nzimande voorgestel het. Ons argumenteer nog die heeltyd dat dit krities belangrik is dat voorheen benadeelde inheemse Suid-Afrika tot hul volle potensiaal ontwikkel behoort te word – maar dat hierdie strewe nie vereis dat Afrikaans, Khoi en Santale as “uitheems” geklassifiseer moet word of op ander manier afgebreek hoef te word nie. In ooreenstemming met ons posisie, beveel die regsmening aan dat waar die Beleid handel oor die ontwikkeling van ander inheemse tale, dit eenvoudig verwys na daardie tale as “voorheen benadeelde inheemse tale.”

Laastens waarsku hierdie regsmening, wat as gevolg van die DA se werk ingewin is, dat dit ‘n vermorsing van skaars hulpbronne sou wees vir Minister Nzimande om hierdie advies te ignoreer. Die dokument maak dit duidelik dat die “gebruik van die voorgestelde term enige moontlike litigasie oor die definisie en onnodige uitgawes sal verhoed.”

Die DA moedig Minister Nzimande en die ANC aan om nou op te hou met hul haatlike veldtog teen hierdie inheemse tale. Dit is nou tyd vir hulle om te luister na die regsadvies en dringend die Taalbeleidsraamwerk aan te pas om Afrikaans sowel as Khoi en Santale as volwaardige inheemse Afrikatale te erken, en wat ook waardig is van beskerming vir opkomende geslagte. Dit maak nie saak hoe min Minister Nzimande dalk van hierdie tale hou nie, want dit is nou eenvoudig onvolhoubaar vir hom om hierdie tale steeds as “uitheems” te klassifiseer ten spyte van wat sy eie regsadvies sê.

Soos wat ons oor die afgelope jaar gedoen het deur middel van parlementêre vrae, petisies, optogte en PAIA-versoeke, sal die DA aanhou om onverpoosd druk toe te pas op Nzimande totdat die Beleidsraamwerk formeel aangepas is volgens hierdie regsmening.

Die implikasies van die DA se oorwinning is van historiese belang vir die toekoms van hierdie tale. Sodra die nodige wysigings aangebring is, sal Afrikaans, Khoi en Santale wetlik beskerm wees teen enige pogings om hulle te ontneem van die hulpbronne wat toegeken word om inheemse tale te beskerm en ontwikkel, insluitend aan ons universiteite.

Hierdie oorwinning getuig ook daarvan dat die DA die enigste party is wat werklik Suid-Afrika se ryk kulturele- en taalerfenis koester, en dat ons die enigste party is wat dinge gedoen kry om jou taalregte te beskerm en bevorder.