Ramaphosa erken ontvangs van DA-versoek vir Kommissie van Ondersoek na plaasmoorde

Issued by Werner Horn LP en Noko Masipa LP –
09 Jun 2023 in News

Vind asseblief aangehegte klankgreep deur Werner Horn LP.

President Cyril Ramaphosa se kantoor het teruggeskryf aan die Demokratiese Alliansie (DA) en ontvangs erken van die DA se brief waarin ons hom versoek om ‘n kommissie van ondersoek in te stel na die toenemende voorkoms van plaasmoorde en -aanvalle regoor die land.

Die afgelope week het gruwelike plaasmoorde in beide Limpopo en die Wes-Kaap plaasgevind. Die Kommissie van Ondersoek sal voorsiening maak vir ‘n deeglike ondersoek na die onderliggende oorsake van hierdie misdade en aanbevelings maak vir omvattende maatreëls om ons boerderygemeenskappe te beskerm.

Ten spyte van die frekwensie van plaasaanvalle en -moorde, bly die DA, en inderdaad die hele Suid-Afrika, verstom dat daar nie veel gedoen word om ons boere te beskerm teen kriminele elemente wat ons landelike gemeenskappe terroriseer nie.

Wetteloosheid het wortel geskiet op ons plase en in landelike gemeenskappe, maar niks word gedoen om die plaag beslissend te hanteer nie.

As ons voortgaan om landelike misdaadvoorkoming as ‘n aparte aktiwiteit van die voedselproduksie-waardeketting te beskou, sal ons voortgaan om ons boere en plattelandse inwoners aan kriminele netwerke bloot te stel. Dit help nie die regering maak beloftes oor landelike veiligheid, maar versuim om dit met tasbare optrede op te volg nie.

Tydens Bheki Cele, minister van polisie, se onlangse begrotingsdebat, het hy versuim om enige vordering wat gemaak is met landelike veiligheid of landelike misdaad in sy toespraak te noem. Ten spyte van die onlangse ontwikkeling van ‘n Landelike Veiligheidstrategie, is daar reeds twyfel oor die SAPD se verbintenis tot die strategie en of dit enige vrugte gaan afwerp.

Die lewens van ons boere en landelike gemeenskappe is onder groot gevaar en President Ramaphosa kan óf kies om in te stem tot die DA se versoek vir ‘n Kommissie van Ondersoek óf hom blind hou terwyl misdadigers ons boerderygemeenskappe terroriseer. Bheki Cele en sy SAPD faal duidelik mense in landelike gebiede ten spyte van ‘n bestaande landelike veiligheidsplan.