Die ANC is ʼn praat sonder daad politieke party

Issued by Henro Kruger MP – DA Shadow Deputy Minister of Small Business Development
18 May 2017 in Speeches

The following speech was delivered in Parliament today by the DA Shadow Deputy Minister of Small Business Development, Henro Kruger MP, during the Budget Vote on Small Business Development.

Huis Voorsitter,

Die ANC is ʼn praat sonder daad politieke party.

Ja, praat sonder daad.

Die Komitee Voorsitter, Agbare Ruth Bengu, het op 3 Mei 2017, die mandaat van die Departement van Kleinsake-ontwikkeling aan die komitee meegedeel. Volgens haar is die mandaat van die Departement soos volg:

  1. Toegang vir almal tot die ekonomie en welvaart van Suid-Afrika.
  2. Verantwoordelik vir 90% van die skepping van 11 miljoen volhoubare werksgeleenthede wat teen 2030 geskep moet word.
  3. Die vermindering van hoë regulatoriese nakoming wat op kleinsake van toepassing is.

Dit is baie duidelik die ANC tot dusver gefaal het in hierdie mandaat.

Die ANC praat sonder daad.

Gun my asseblief die geleentheid om die afgelope 3 jaar se vordering in hierdie verband uit te lig.

88% van alle nuwe korporasies wat gestig word met die hulp van die Departement en sy agentskappe, die Small Enterprise Development Agency (SEDA) en Small Enterprise Finance Agency (SEFA), faal tragies, ten koste van miljoene rande vir die rekening van die belastingbetaler.

Voorsitter, die vermoede bestaan dat min van hierdie lede word ooit opgevolg of opgespoor. Op ʼn vraag aan Minister Lindiwe Zulu deur Agbare Toby Chance, in verband met huidige bydrae van korporasies tot die nasionale bruto produk, was die antwoord 0.12% – weglaatbaar klein, maar tog verkies die ANC om aanhoudend hieroor te praat, duidelik sonder daad.

SEDA en SEFA, kleinsake se hoop tot ontwikkeling en finansiering, beplan onderskeidelik nie naastenby genoeg aktiwiteite vir die 2017/2018 finansiële jaar om enigsins vordering te maak nie.

SEDA beplan om bykans R757 miljoen te spandeer op kleinsake ontwikkeling gedurende die 2017/18 finansiële jaar, wat gelyk is aan ʼn baie klein munisipaliteit se begroting.

SEFA aan die anderkant beplan om deur middel van hulle ingryping 59 000 werksgeleenthede te skep. Duidelik, Agbare Voorsitter, is daar nie ʼn daadwerklike politiese wil om genoegsame werksgeleenthede teen 2030 te skep nie.

Die ANC praat sonder daad.

Voorsitter, die derde mandaat van die Departement, volgens die Komitee Voorsitter, is die vermindering van die regulatoriese rompslomp wat kleinsake ondervind. Net meer as ʼn week gelede, het die komitee die geleentheid gehad om ʼn wetsontwerp, wat rompslomp sal verminder, goed te keer. Helaas, die ANC het ʼn politiese besluit geneem om nie hierdie weg te volg nie.

Die ANC is inderdaad praat sonder daad.

Die “Red Tape Impact Assessment Bill” sou vir die ANC regering ʼn geleentheid gebied het, om te bewys dat hulle ernstig is om werk te skep, armoede te verminder en inklusiewe toegang vir almal tot die ekonomie te verseker. Met die afkeuring van die wetsontwerp het die ANC ʼn geleentheid om die speelvelde vir kleinsake meer gelyk te maak verhoed, en as ware verseker dat hindernisse soos rompslomp voort sal gaan om ekonomiese groei en werkskepping te rem.

Navorsing het bewys dat rompslomp tot 10% wegvreet in die daaglikse omset van kruideniersware winkels se omset. Tot soveel as R30 per kop word aan rompslomp gespandeer vir ʼn troue, en dit kos die restaurant eienaar 5% ekstra om vir jou ʼn ete op te dis by jou gunsteling uiteet plek.

Elke sent wat rompslomp besigheid ekstra kos, as gevolg van ʼn regering wat nie omgee nie, maak die entrepreneur ontsettend seer. Hierdie onnodige uitgawes vir kleinsake kan eerder tot werkskepping aangewend word.

Die DA is die enigste party met wetsontwerp wat toegespit is om ʼn vriendelike omgewing vir kleinsake ondernemings en korporasies te skep, wat die sukses van kleinsake sal vergemaklik. In die Wes-Kaap, waar die DA regeer, het ‘n soortgelyke beleid reeds 85% van 6 000 rompslomp sake opgelos.

Die President en die Ministers praat gereeld oor die vermindering van rompslomp, maar dit is alles praat sonder daad.

Voorsitter, 2019 is om die draai, dan sal die DA deur middel van goed deurdinkte regverdige beginsels ʼn omgewing vir die kleinsake gemeenskap skep wat geleenthede vir almal sal beteken en tot die welvaart van alle Suid Afrikaners sal lei.

Die DA voeg die daad wat hy praat.