Agbare Speaker, Minister, Lede, Amptenary en Gaste.
Minister, 26 September 2016 kan geag word as ‘n noodlottige dag vir die
Staatsveiligheids Agentskantskap of in die algemene omgangstaal ook bekend as die State Security Agency of te wel die SSA. Dit was die dag toe Arthur Fraser met ‘n groot gejuig heraangestel is as die Direkteur Generaal van die SSA.
Hierdie aankondiging is deur die destydse Minister, David Mahlobo, bekend gemaak en hy meld onder andere dat hy volle vertroue het in Fraser wat al as Adjunk Direkteur Generaal in die Nasionale Intelligensie Agentskap (NIA) werksaaam was.
Die aankondiging word gedoen ten spyte daarvan dat hy bewus was van Frases se agtergrond en sy betrokkenheid by die “Principal Agent Network” (PAN) Project. In die projek het Fraser toegesien dat familie en vriende onwettig aangestel word sonder enige sekerheidsklaring.
Daar is miljoene rande spandeer op uitermatige vergoeding ten opsigte van salarisse en byvoordele. Wonings is uit staatsfondse aangeskaf en weer aan die projek verhuur. Daar word ook beweer dat ongeveer 290 luukse voertuie aangekoop is vir die projek.
Die vorige Minister Siyabonga Cwele, sowel as die destydse Voorsitter van die Joint Standing Committee on Intelligence (JSCI) Cecil Burgess was ook totaal en al bewus van die kriminaliteit in die PAN projek en alhoewel die saak destyds aan die HAWKS oorhandig is, het daar tot op hede geen vervolging plaasgevind nie.
Dit is om hierdie rede dat die Demokratiese Alliansie (DA) se Hoofsweep Mnr John Steenhuisen op 18 Mei 2017, vandag ‘n jaar gelede, ‘n versoek gerig het vir ‘n volledige ondersoek na Arthur Fraser en sy betrokkenheid by die PAN program.
Dit het egter die waagmoed van die bekroonde oud-joernalis Jacques Pauw gekos om die hele aangeleentheid te ondersoek en te openbaar in sy boek “The President’s Keepers” tot onsteltenis van Fraser en sy meelopers, wat op daardie stadium ook gedreig het met regstappe teen Pauw.
Minister, die inhoud van die boek is nie alleen ‘n skandvlek op die SSA nie maar openbaar ook verskeie strategiese Departemente se betrokkenheid by Staatskaping.
Die JSCI wat as parlementêre oorsig komitee oor staatsveiligheid moet waak, word ook geïmpliseer ten aansien van sy mandaat om oor sulke ongerymdhede te rapporteer. Dit het plaasgevind ten spyte daarvan dat die projek op etlike geleenthede in die komitee bevraagteken is en talle versoeke
gerig is om die volledige ondersoeksverslag beskikbaar te stel.
Dit is egter onder die huidige Voorsitter, Charles Nqakula, dat die aangeleentheid aandag geniet het en ten danke aan hom dat ons nou uiteindelik in die die besit van die volledige verslag is.
Minister, u is bewus dat daar nie meer gedetailleerde informasie uit die komitee bekend gemaak kan word nie. Dit vrywaar egter nie die JSCI om die hoofstuk af te sluit nie. Inteendeel, die werk begin nou eers om toe te sien dat elke persoon wat aandeel gehad het in hul persoonlike verryking uit staatsgeld, tot verantwoording geroep word en krimineel vervolg word.
Minister daar was lesse te leer uit die onthulling van die PAN Projek. Die leemtes wat identifiseer is, het veral betrekking tot die volgende Wetgewing wat dringende hersiening benodig:
- Intelligence Oversight Act;
- National Strategic Intelligence Bill;
- Protection of Personal Information Act;
- General Intelligence Law Amendment Bill; asook
- RICA Wetgewing
Minister, ‘n tweede aspek wat egter aandag moet geniet is die toeiening van ‘n onafhanklie begroting vir u departement. Tans is die departement se befondsing vervat in die SSA begroting, wat op sigself in die Nasionale Tesourie se begroting verskans is.
‘n Onafhanklike begroting vir u departement kan meehelp dat die funksies van die Inspekteur Generaal en NICOC direk onder u resorteer. Dit sal meebring dat die twee afdelings onafhanklik kan funksioneer en sodoende hulle volle potensiaal kan bereik. Sodoende sal u ingelig bly en dit sal voorkom dat onregmatighede ongesiens verbygaan. Derhalwe het u Ministerie ook meer
onafhanklikheid en behoort die blootstelling aan oorsig en ouditeuring die algemene publiek gerus te stel.
Minister, as u dink dat die ongerymdhede in u Departement opgelos is deur die wegskuif van Arthur Fraser is u ongelukkig verwaand. Die verknorsing waarin die Departement en die SSA hulself bevind is die gevolg van geïnstusionaliseerde wanbestuur, en ingrypende introspeksie en hersiening sal benodig word om te verseker dat geloofwaardigheid in die diens en die moraal van die amptenary wat daarin dien, herstel word.