The following speech was delivered today in the National Assembly by DA Member of the Constitutional Review Committee, Annelie Lotriet MP.
Agbare Speaker,
Grondhervorming en grondherstel moet plaasvind. In teendeel dit moes al oor die afgelope 24 jaar reeds gebeur het.
Die werklikheid waarmee ons egter vandag gekonfronteer word, is dat die ANC regering dit nie gedoen het nie, waar hulle wel ‘n poging aangewend het, was dit deurspek met onbeholpenheid, korrupsie en begrotings wat totaal ontoereikend is.
Die gevolg is dat daar ter wille van politieke gewin en opportunisme, ‘n proses deur die Grondwetlike Hersieningskomitee gestoomroller is, wat die land duur te staan kan kom.
In plaas daarvan dat die regering introspeksie gedoen het oor sy eie mislukkings en tekortkominge, is daar besluit dat die eintlike rede vir die trae proses van grondhervorming die Grondwet is. Die Grondwet is nou die sondebok en moet nou ten alle koste gewysig word
Maar, agbare Speaker, dit gaan nie hier net om die wysiging van die Grondwet nie. Dit is al dikwels genoem, ter verdediging van die wysigingsproses, dat die Grondwet al 17 keer gewysig is. Dit is inderdaad so, maar daardie wysigings was tegnies van aard en het nie die wese van die Grondwet gewysig nie.
In hierdie geval is dit ook nie net ‘n wysiging aan die Grondwet nie, maar in besonder, ‘n wysiging van Hoofstuk 2, die Handves van Regte. Die Handves van Regte is die hoeksteen van ‘n demokrasie. ‘n Handves van Regte gee of skep nie regte nie, maar beskerm bestaande regte wat aan alle mense beskore is.
Dit is baie belangrik om te besef dat indien daar gepraat word van ‘n wysiging van die Handves van Regte, daar gepraat word van ‘n wysiging van reeds bestaande regte waaroor almal beskik.
Hierdie Handves staan as buffer tussen alle burgers van hierdie land en enige arbitrêre handeling van die staat.
Artikel 25 in hierdie Handves spreek juis een van die kernelemente van enige demokrasie en ekonomie aan, naamlik die reg op eiendom. Geen ekonomie kan groei en suksesvol wees as daar geen beskerming van eiendomsreg is nie en waar daar nie remedies is teen enige arbitrêre onteiening deur die staat nie.
Die motivering wat voorgehou word vir die wysiging van Art 25 is dat dit wat implisiet is, eksplisiet gemaak moet word. Daar moet groter duidelikheid gegee word oor wat bedoel word met Art 25. Die werklikheid is, dat hierdie bloot ‘n rookskerm is om geldigheid te verskaf aan proses wat selfs nie eers almal in die ANC volledig ondersteun nie.
Die Grondwet is nie ‘n stel regulasies nie. Dit bied riglyne en norme waaraan handelinge moet voldoen. Die wyse hoe dit in praktyk gedoen moet word, word hanteer deur die algemeen geldende regsvoorskrifte soos na verwys word in Art 25. Dit is waar die implisiete, eksplisiet gemaak word. Nie deur die Grondwet te wysig nie. Wetgewing is die meganisme waardeur grondhervorming en grondrestitusie moet plaasvind onder leiding van ‘n regering met die nodige politieke wil en kapasiteit om dit te doen.
Daar moet altyd onthou word, dat die Grondwet daar is ongeag watter party aan bewind is. Die Grondwet is daar om die burgers van ‘n land teen die vergrype van die staat te beskerm.
Hierdie aanbeveling dat die Artikel 25 van die Handves van Regte in die Grondwet, alhoewel dalk gesien kan word as minimaal, gewysig moet word, maak die deur oop vir enige verdere wysigings aan die Handves van Regte. As dit nou met so ‘n gebrekkige proses, aanvaar en deurgevoer word, skep dit die presedent vir enige verdere wegkalwing van die menseregte van die burgers van Suid-Afrika.
Die DA sal nie enige wysiging van artikel 25, die eindomsregklousule ondersteun nie. Die DA se beleid stel ‘n behoorlike effektiewe, versnelde proses van grondhervorming voor, waar mense eiendomsreg verkry. So kan ons die ekonomie bou en sekuriteit aan die burgers van die land gee.
Ons kan en sal nie die regte van Suid-Afrikaners op die altaar van politieke opportunisme opoffer nie