DA verwelkom arbiedshof se uitspraak oor Laerskool Schweizer-Reneke, nou moet ons ‘n verdeelde gemeenskap herbou

Issued by Joe McGluwa LP – DA Noordwes Premierskandidaat
24 Jan 2019 in News

Nota aan redakteurs: Kliek asseblief hier vir ‘n Afrikaanse klankgreep deur Joe McGluwa LP.

Die Demokratiese Alliansie (DA) in Noordwes verwelkom die uitspraak van die arbeidshof dat Elana Barkhuizen se skorsing onwettig was en dat sy mag terugkeer na haar pos as onderwyseres aan die Laerskool Schweizer-Reneke.

Dit was ‘n moeilike en pynvolle twee weke vir alle partye betrokke, veral vir die kinders wat geaffekteer is en trauma ervaar het en ook vir Elana Barkhuizen.

Toe die kwessie ontstaan het, het die DA na die laerskool gegaan om die nodige feite in te win en nié om enige oordeel uit te spreek nie. Die DA wou eerder uitdrukking gee aan ons strewe om Een Suid-Afrika vir Almal te bou.

Ons het met die skoolhoof ontmoet sowel as met die voorsitter van die skoolbeheerliggaam.

Ons het deurentyd geglo dat die regte proses gevolg moes word, dat die regte van almal betrokke beskerm moes word en dat die kwessie so gou doenlik opgelos moet word.

Die ANC en die EFF, aan die ander kant, het slegs gepoog om rassespanning aan te wakker en dit het ‘n atmosfeer geskep wat vrees en angs veroorsaak het en die veiligheid van die kinders en Me Barkhuizen bedreig het.

Die Noordwes Onderwys LUR, Sello Lehari, en sy departement het die proses ondermyn, vermoedelik vir politieke gewin.

Die DA sien daarna uit dat alle onderrig-aktiwiteite by die skool hervat word en dat die veiligheid van die kinders die grootste prioriteit sal wees.

Nou is die tyd vir die Scweizer-Reneke gemeenskap om mekaar te vind en te versoen.

Ons moet almal leer uit hierdie ervaring en ons beywer vir versoening.

Die DA beklemtoon ons versoek aan alle Suid-Afrikaners om te waak teen populistiese politieke retoriek wat mense verdeel volgens ras – veral tydens hierdie verkiesingsjaar.

Die DA sal aanhou om alle Suid-Afrikaners saam te probeer bring, verenig in ons diversiteit, en om Een Suid-Afrika vir Almal te bou.