Ramaphosa se uitsprake oor Afrikaans en grond is misplaas en beledigend

Issued by Athol Trollip – DA Federale Voorsitter
30 Apr 2019 in News

President Cyril Ramaphosa se uitsprake gisteraand toe hy “Pretoriase meningsvormers” toegespreek het, verdien kommentaar.

Om te sê “Afrikaanssprekendes voel dieselfde seer oor hul taal as wat die meerderheid Suid-Afrikaners oor grond voel” is geheel en al onvanpas en misplaas.

Die DA is heeltemal verbind to grondhervorming. Waaraan ons nie verbind is nie, is grondonteiening sonder vergoeding, soos wat die ANC en die EFF voorstel.

Die president kan soveel mooi broodjies bak as wat hy wil, die feit bly staan beide die ANC en die EFF wil die grondwet verander om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak. En hoe meer ons ekonomie agteruitgaan, hoe meer word minderheidsgroepe in ons land deur die ANC geteieken, nie net deur die dreigement van onteiening sonder vergoeding nie, maar ook die gedwonge investering van pensioenfondse in sukkelende staatsbeheerde instellings.

Vir die president om hierdie beplande optrede deur die ANC-regering te probeer goedpraat deur dit te vergelyk met Afrikaanssprekendes se passie vir hul taal, is beledigend om die minste te sê.

Afrikaanssprekendes en alle ander Suid-Afrikaners  het die reg om die taal van hul keuse te gebruik en aan die kulturele lewe van hul keuse deel te neem, soos vervat in die Handves van Menseregte, in artikel 30 van die Grondwet. Dit is eerder tyd dat die ANC hierdie regte, verskans in ons Grondwet, begin respekteer en afdwing en ophou om doelbewus ‘n stigma aan die taal te probeer koppel.

Die DA respekteer die meerderheid Suid-Afrikaners se passie vir die grondkwessie en net soos dit nie nodig is om te karring aan die grondwet om Afrikaanssprekendes se taalregte te beskerm nie, so is dit ook nie nodig om die gondwet the wysig om grondhervorming te bewerkstellig nie.

Die DA glo in grondhervorming wat werk skep en wat eienaarskap en die ekonomie uitbrei en versterk. Dit vereis nie onteiening of staatseienaarskap nie. Dit vereis, soos in die geval van Afrikaans, bloot ‘n regering wat in staat is om bestaande bepalings in ons Grondwet af te dwing.

President Ramaphosa, nes sy “baas” Ace Magashule, moet ophou vry na wit Suid-Afrikaners met onrealistiese en ondeurdagte beloftes en skyn-besorgdheid.

Minderheidsgroepe in Suid-Afrika is moeg daarvan om politieke speelballe te wees vir die ANC-regering wat die laaste 25 jare meestal hul grondwetlike regte ondermyn het en hierdie land so te sê tot die afgrond gedwing het.

Blitsbesoeke in Stellenbosch en Pretoria, waar wilde vergelykings getref word en leë beloftes gemaak word, gaan nie wit Suid-Afrikaners oorhaal om eensklaps op 8 Mei te stem vir die party van korrupsie, wanbetuur en staatskaping nie – Cyril Ramaphosa of te not.