DA-leier John Steenhuisen besoek en ondersteun Afrikaanse studente op Stellenbosch

Issued by John Steenhuisen LP – Leier van die DA
10 Mar 2021 in News

 Vind aangeheg fotos hierhier, hier en hier. Asook ‘n video van John Steenhuisen LP. 

DA-leier John Steenhuisen, tesame met ons woordvoerder oor hoër onderwys, Chantel King, en die kiesafdelingshoof vir Stellenbosch, Dr Leon Schreiber, het vandag ‘n oorsigbesoek en feitesending gedoen by die Universiteit van Stellenbosch (US), na berigte dat studente verbied is om Afrikaans te praat by hul koshuise, in die openbaar, en selfs op parkiebanke op kampus.

Die DA is baie bekommerd oor wat ons gehoor het tydens ons gesprekke vanoggend met van die betrokke studente, sowel as met studente-organisasies en verteenwoordigers van die konvokasie. Dit is duidelik dat die praktyk nie tot een koshuis beperk is nie. Ons het gehoor van studente uit verskillende koshuise dat hulle selfs verbied word om Afrikaans te praat terwyl hul soggens hul tande borsel. Verskeie studente het hul kommer uitgespreek oor die manier waarop hulle geïntimideer word wanneer hul klagtes opper, terwyl sommige studente ook verwys na die feit dat hulle sukkel met hul studies omdat hulle eenvoudig nie Engels op ‘n akademiese vlak kan besig nie.

Die probleem is duidelik sistemies, en die krisis is verder vererger deur mediaberigte vandag dat die universiteit van plan is om voortaan alle nuwe kursusse slegs in Engels aan te bied. Wat tans op Stellenbosch afspeel is ‘n skokkende oortreding van Afrikaanse studente se grondwetlike regte. Ten spyte van die universiteit se flou verskonings, blyk dit dat hierdie nuutste vergrype heeltemal in lyn is met die gees van die 2016 taalbeleid, wat Afrikaans as ‘n gelyke onderrigtaal naas Engels afgeskaf het.

Weens ons toewyding aan die taalregte van alle Suid-Afrikaners soos in ons Grondwet vervat, gaan die DA al die bewyse wat ons vandag ingesamel het as ‘n formele klag indien by die Menseregtekommissie en die taalregtekommissie, en ook in die Parlement dryf. Ons doen ‘n beroep op hierdie Grondwetlike instellings om die saak met dringendheid te ondersoek, aangesien hierdie kwessie van groot belang is vir ons Grondwet se strewe om ‘n nasie te bou waar diversiteit en meertaligheid as ‘n bate gesien word, eerder as ‘n las.

Ons moet ook die konteks in gedagte hou. Tot en met 2016 was Stellenbosch die laaste universiteit in die suidelike helfte van die land wat steeds onderrig in Afrikaans gebied het. Na die 2016 besluit om Afrikaans as ‘n gelyke taal af te skaf, het vier miljoen Afrikaanssprekendes in die Wes- en Noord-Kaap nie meer toegang tot hoër onderwys in hul moedertaal nie. Dit is ten spyte van die feit dat Stellenbosch die vermoë het om in Afrikaans onderrig te bied – soos wat dit inderdaad vir meer as ‘n eeu lank gedoen het.

Die universiteit hou daarvan om te sê dat die aantal Afrikaanse studente afneem, en dit dan te gebruik om die Afrikaans aanbod verder af te skaal. Maar hul argument is verkeerd om. Die aantal Afrikaanse studente neem juis af omdat Afrikaanse onderrig aanhoudend aangeval word, soos wat ons hierdie week gesien het. Hoe kan die universiteit verwag dat studente welkom voel op ‘n kampus waar hul geïntimideer en geviktimiseer word wanneer hul Afrikaans praat?

Die DA gaan ook nou veldtog ter verdediging van moedertaalonderrig op Stellenbosch selfs verder verskerp. Ons dring namens die miljoene Afrikaanssprekendes in die Wes-Kaap en Noord-Kaap daarop aan dat Afrikaans gelyk gemaak word met Engels aan die US, en dat moedertaalonderrig uitgebrei word, nie aangeval word nie.