DA verkla bestuur van Universiteit Stellenbosch by die Menseregtekommissie oor verbod op Afrikaans

Issued by Dr Leon Schreiber LP – DA Kiesafdelingshoof: Stellenbosch
17 Mar 2021 in News

Aangesien die bestuur van die Universiteit van Stellenbosch (US) steeds weier om daadwerklik ondersoek in te stel na klagtes dat Afrikaans by verskeie koshuise verbied is, het die Demokratiese Alliansie (DA) vandag ’n formele klag teen die universiteitsbestuur by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien. Die DA se klagte word vergesel van vyf verskillende eedsverklarings van studente en studenteorganisasies wat die DA genader het vir hulp.

Die studente se getuienis maak dit duidelik dat die verbod op Afrikaans in beide openbare en private ruimtes nie ’n geïsoleerde geval is nie. Studente by ten minste vier verskillende koshuise en private studenteorganisasies is verbied om Afrikaans in hul koshuise, kamers en selfs op parkiebanke te praat.

Ten spyte daarvan dat studente by die Tygerbergkampus volgens berigte reeds in Augustus 2020 klagtes oor die diskriminasie teen Afrikaanssprekende studente aanhangig gemaak het, het die universiteit tot dusver niks gedoen om regstelling te bewerkstellig nie. Daar is steeds geen aanduiding dat die universiteit bereid is om ’n volledige en onafhanklike ondersoek van stapel te stuur nie. Hierdie pligsversuim vererger net die gevoel van vernedering onder die betrokke studente, en maak die universiteitsbestuur direk aandadig in die menseregtevergrype teen hierdie studente.

Die DA se klagte berus op die Handves van Menseregte soos uiteengesit in ons Grondwet. Die Handves van Menseregte maak, onder meer, in paragraaf 31 voorsiening daarvoor dat persone wat aan ’n taalgemeenskap behoort nie die reg ontsê mag word om saam met ander lede van daardie gemeenskap hul taal te gebruik nie. Paragraaf 30 stipuleer dat elkeen die reg het om die taal van eie keuse te gebruik en om aan die kulturele lewe van eie keuse deel te neem, terwyl paragraaf 29 aan elke persoon die reg gee om onderwys te ontvang in die taal van eie keuse waar dit rederlikerwys doenlik is.

Op grond van die getuienis in die verklarings en die gesprekke wat ons met studente gevoer het, is die DA oortuig dat die verbod op Afrikaans deur die US die menseregte van Afrikaanssprekende studente verbreek het. Ons versoek die MRK om – anders as die universiteit – hierdie saak dringend te ondersoek op ’n manier wat die betrokke studente beskerm teen enige verdere viktimisering.

Indien die MRK se ondersoek die vergrype bevestig, vra ons vir regstellende optrede, insluitend moontlike siviele en kriminele vervolging, teen partye wat betrokke is by die skending van menseregte. Ons versoek ook die MRK om die rol van die US se 2016-taalbeleid te oorweeg, en om vas te stel in hoe ’n mate die beleid ’n atmosfeer of omgewing geskep het wat die menseregtevergrype teen Afrikaanse studente aangemoedig het.

Local Government Elections are coming up in 2021! Visit check.da.org.za to check your voter registration status