Die DA verwelkom vandag se aankondiging deur die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) dat hy die DA se klag teen die bestuur van die Universiteit Stellenbosch (US), onder leiding van rektor en visekanselier Wim de Villiers, sal ondersoek na beweerde menseregteskendings teen Afrikaanssprekende studente.
Die SAMRK sal ondersoek instel of die Universiteit se taalbeleid se verbod op die gebruik van Afrikaans – insluitend “privaat-ruimtes, slaapkamers, digitale platforms soos Whatsapp en selfs op parkbanke voor studente-koshuise” – ‘n aantal grondwetlike regte geskend het, “waaronder die reg op gelykheid op grond van taal, ras of enige ander verbode grond.”
Die DA het verlede week die klag by die SAMRK ingedien. Ons klag het gepaard gegaan met beëdigde verklarings deur verskillende studente, wat aangedui het dat die verbod op Afrikaans tot minstens vier verskillende koshuise in die US en die Stellenbosch-kampusse strek.
Ons klag het die SAMRK ook gevra om te ondersoek hoe die universiteit se taalbeleid van 2016 – wat Afrikaans as gelyke taal saam met Engels afgeskaf het – die beweerde menseregteskendings aangemoedig of andersins aangespoor het.
Terwyl die ondersoek aan die gang is, moedig ons lede van die publiek aan om ons petisie te onderteken (skakel hier) om die eerste konsep van die universiteit se hersiene taalbeleid te verwerp, wat die posisie van moedertaalonderrig verder sal verswak en dus waarskynlik tot verdere menseregteskendings teen Afrikaanssprekende studente sal lei. Ons sal die versoekskrif en sy duisende handtekeninge voor 12 April by die US indien.
Die DA doen ook ‘n beroep op Wim de Villiers en universiteitskanselier, Edwin Cameron, om hul ontstellende stilte te verbreek oor hierdie skandelike skendings van die reg op moedertaalonderrig. In plaas daarvan om op die SAMRK-ondersoek te wag, moet die universiteitsbestuur in die openbaar verskoning vra vir die verbod op Afrikaans, en die proses om die taalbeleid te hersien onmiddellik weer begin, met die eksplisiete doel om gelyke status aan Afrikaans en Engels te waarborg.
Local Government Elections are coming up in 2021! Visit check.da.org.za to check your voter registration status