Waarom ignoreer die bestuur van Universiteit Stellenbosch die menseregtevergrype teen Afrikaanse studente?

Issued by Dr Leon Schreiber LP – DA Kiesafdelingshoof: Stellenbosch
14 Mar 2021 in News

Die Demokratiese Alliansie (DA) deel die pyn van Afrikaanssprekende studente aan die Universiteit van Stellenbosch (US), wat vanoggend wakker geword het met die nuus dat die universiteitsbestuur – onder leiding van rektor Wim de Villiers – reeds vir ses maande lank die hulpkrete van Afrikaanse studente eenvoudig ignoreer.

Volgens berigte in Rapport, het studente van die Tygerbergkampus reeds in Augustus 2020 klagtes oor taaldiskriminasie aanhangig gemaak by die betrokke huiskomitee, koshuishoof, die TygerMaties kluster, sowel as die US se gelykheidseenheid. Vir ‘n halwe jaar lank het hul hulpkrete op dowe ore geval, met die universiteit wat skynbaar nou eers wakker geskrik het te midde van die voortslepende storm weens die verbod op Afrikaans aan die universiteit.

Die DA is ook gewalg deur die berigte dat vrouestudente by sekere koshuise gedreig word met boetes en tugstappe as hulle Afrikaans praat. Daar is nou berigte van dosyne studente by minstens vyf koshuise dat hulle belet word om Afrikaans te praat in die openbaar, op Whatsapp, en selfs in hul eie kamers. Dit blyk nou ook dat Afrikaans spesifiek geteiken word, met een student wat aanvoer dat hulle toegelaat word “om alle tale behalwe Afrikaans te praat” omdat dit glo as ‘n “onderdrukkende taal” beskou word.

Dit is teen hierdie tyd duidelik dat die grondwetlike regte van talle Afrikaanse studente aktief vertrap word aan die US. Maar waar is Wim de Villiers?

Die rektor, wat die dryfkrag was agter die 2016 taalbeleid wat Afrikaans as ‘n gelyke taal afgeskaf het en daardeur klaarblyklik ‘n atmosfeer van diskriminasie teen Afrikaans geskep het, het nog nie ‘n enkele woord gerep oor hierdie menseregtevergrype nie. In plaas daarvan om proaktief en met empatie te reageer, het die bestuur van die universiteit tot dusver probeer wegkruip, die klagtes ignoreer of probeer afmaak as ‘n “verkeerde interpretasie” van die “gees” van die taalbeleid.

Gegewe die feit dat De Villiers se taalbeleid openlik verklaar het dat Afrikaans minder belangrik is as Engels aan die US, blyk dit eerder asof die huidige vergrype die direkte gevolg is van die 2016 taalbeleid. Die enigste oplossing is dus om die taalbeleid te hersien deur seker te maak dat Afrikaans gelyk gestel word aan Engels.

De Villiers se bestuur se weiering tot op hede om ferm op te tree ter beskerming van die vrouestudente wat verbied word om hul moedertaal te praat maak hulle aandadig en medepligtig in hierdie vergrype. Aangesien die bestuur duidelik geen aptyt het om op te staan vir hierdie studente nie, gaan die DA die nuutste onthullings oor studente wat gedreig word met boetes insluit by ons bestaande klagte by die Menseregtekommissie.

Deur die loop van die komende week gaan die DA ook verdere aksies aankondig ter verdediging van moedertaalonderrig op Stellenbosch. Ons nooi elke Suid-Afrikaner wat verbind is tot ons Grondwet om met ons hande te vat vir die grootste veldtog van sy soort in die geskiedenis van ons demokrasie.

Local Government Elections are coming up in 2021! Visit check.da.org.za to check your voter registration status.