Die DA het Sondag meer as 6 500 kommentare téén die nuwe konseptaalbeleid van die Universiteit van Stellenbosch (US) ingedien. Altesame 6 586 kommentare is ingedien as deel van die petisie wat die DA drie weke gelede geloods het in reaksie op berigte dat studente verbied is om selfs in private ruimtes op kampus Afrikaans te praat, en nadat die Senaat van die universiteit besluit het om geen nuwe leermateriaal in Afrikaans beskikbaar te stel nie.
Die US se nuwe konsepbeleid sal Afrikaanse studente selfs verder uitsluit as die vorige 2016 beleid, in terme waarvan die onlangse vergrype gepleeg is en wat reeds veroorsaak het dat, volgens rektor Wim de Villiers, net 17.8% van klasse steeds in parallelmedium aangebied word. Die oorblywende 82.2% van klasse is dus óf eksklusief Engelsmedium, óf meestal in Engels en gebruik Afrikaans as ’n byna nuttelose “opsommende” versiering.
Die kommentare wat ons ingedien het ondersteun almal die DA se voorgestelde wysigings aan die nuwe konsepbeleid, wat, onder andere, daarop aandring dat Afrikaans as ’n inheemse taal erken word, dat Afrikaans en Engels as gelyke onderrigtale bevestig word, dat geen student in enige situasie ontneem word van hul grondwetlike reg om in die taal van hul eie keuse te kommunikeer nie, dat die universiteit tegnologiese oplossings vir tolking en vertaling omarm, dat alle voorgraadse lesings in volwaardige parallelmedium aangebied word (d.w.s afsonderlike klasse in Afrikaans en Engels), en dat enige afwykings van die parallelmedium-beleid deur die volle Senaat goedgekeur moet word.
Deur die DA se voorgestelde wysigings te implementeer, kan die US-bestuur uiteindelik ophou om verskillende groepe studente teen mekaar af te speel in hul soeke daarna om uitvoering te gee aan die ANC se anti-Afrikaanse ideologie. Die DA se wysigings sal verseker dat nie ’n enkele Afrikaanssprekende óf Engelssprekende student op enige wyse uitgesluit word nie.
Die DA was ook die afgelope week op die grond in Stellenbosch om te luister na die historiese betogings deur lede van agtergestelde Afrikaanse gemeenskappe. Die betogings dien as ’n klinkklare bewys dat Afrikaanssprekendes van diverse agtergronde daarop aandring dat die US hul hulpkrete hoor. Afrikaans is by verre die grootste taal in die Wes- en Noord-Kaap, en om studente uit te sluit op grond van taal is ’n direkte ondermyning van ’n fundamentele mensereg waaroor die DA nie sal stilbly nie.
Ons het reeds klagtes by die Menseregtekommissie aanhangig gemaak oor die verbod op Afrikaans aan die US en sien uit na die bevindinge van die ondersoek. En indien die US weereens die noodkrete vanuit die Afrikaanse gemeenskap minag deur die duisende kommentare téén die taalbeleid blindelings te ignoreer, sal die DA alle moontlike oplossings – insluitend massa-aksie, regsaksie en ander vorme van mobilisering – gebruik om seker te maak dat die uitsluiting van Afrikaanse studente tot ‘n einde kom.
Die DA se volledige kommentaar is hier beskikbaar.
Local Government Elections are coming up in 2021! Visit check.da.org.za to check your voter registration status.