DA verwelkom die Stad Tshwane se stappe om Huis Herfsblaar en ouer inwoners teen die EFF te beskerm

Issued by Cilliers Brink LP – DA Woordvoerder
28 Jul 2021 in News

Vind asseblief aangeheg ’n klankgreep van Cilliers Brink LP.

Die DA neem kennis van die doelgerigte stappe wat deur die Stad Tshwane geneem is om te verhoed dat die EFF se beoogde optog na ’n tehuis vir bejaardes gewelddadig raak.

Dit staan in skrille kontras met die halfhartige bestuur wat ons onder ANC-regerings sien wanneer hulle soortgelyke situasies moet hanteer.

Die EFF het die optog na Huis Herfsblaar ’n “rassisme-optog” genoem, maar die protes het minder te doen met rassisme as wat dit eerder politieke opportunisme is.

Die EFF sal teer op enige krummel onenigheid en verdeeldheid wat hy kan vind. Hulle is selfs bereid om weerlose ou mense te teiken en te intimideer in die hoop om emosioneel gelaaide beelde op te wek om hul vernietigende politieke agenda te bevorder.

Die vorige keer wat die EFF ’n tehuis vir bejaardes in Pretoria op hierdie manier geteiken het, moes die tehuis ontruim word en personeel wat met die EFF slaags geraak het, het hul werk verloor.

Dit mag nooit weer gebeur nie en die DA sal saam met wetstoepassingsagentskappe en die gemeenskap werk om die tehuis te beskerm.

Vandag sal verteenwoordigers van die DA, insluitende raadslid Roelof Fourie wat deurentyd met strukture in die plaaslike gemeenskappe geskakel het, buite Huis Herfsblaar teenwoordig wees om die situasie dop te hou.

Die DA sal verseker dat veiligheidsdienste saam werk met gemeenskapsforums wat ’n mandaat het om gemeenskappe te beskerm sodat wet en orde behou kan word en ons weerloses veilig bly.