DA se eerste plakkate gaan op. Ons is reg vir die verkiesing!

Issued by John Steenhuisen LP – Leier van die Demokratiese Alliansie
08 Sep 2021 in News

Vanoggend het die DA sy eerste verkiesingsplakkate in eThekwini, KwaZulu-Natal, opgehang en daardeur ’n harde en duidelike boodskap gestuur: Ons is gereed vir hierdie verkiesing, en ons is gereed om groot veranderinge te bring in metro’s en munisipaliteite wat deur jare van ANC-mislukking vernietig is.

Die boodskap op ons plakkate – en ons nasionale slagspreuk vir hierdie verkiesing – is eenvoudig: “Die DA kry dinge gedoen”. Op alle regeringsvlakke is hierdie vermoë om dienste te lewer die enigste kriteria wat werklik saak maak, maar dit geld veral op plaaslike regeringsvlak waar inwoners onmiddellik en direk geraak word deur die doeltreffendheid of mislukking van hul plaaslike regering. Daar is geen ander party in Suid-Afrika vir wie dit geld nie.

Dit is ook gepas dat ons eerste plakkaat net buite die kantore van die ANC-regering wat die mense van eThekwini in die steek gelaat het, opgesit is. Hiermee sê ons vir al die inwoners van dié stad en die res van Suid-Afrika: Dit is wat u keuse in die verkiesing sal bepaal – u moet kyk na die DA-verskil en dan besluit wat u wil hê vir die toekoms van u stad.

Ons verkiesingsmanifes word op 25 September bekendgestel. Dit bied alle Suid-Afrikaners die geleentheid om te besin oor die positiewe verskil wat die DA in beheer van hul dorp of stad kan bring. Ons moedig almal aan om die direkte uitsending van hierdie bekendstelling te volg.

Ons plakkate sal ook as daaglikse herinnering dien dat die DA die enigste party is wat bereid en gereed is om hierdie verkiesing te betwis. Terwyl die ANC, en ander partye, desperaat probeer het om die verkiesing uit te stel omdat hul interne gevegte en die skandelike stand van hul finansies hulle nie in staat gestel het om ’n veldtog van enige aard aan te pak nie, werk die DA alreeds ’n jaar lank om lyste te finaliseer, ons boodskap te verfyn en alle verkiesingsmateriaal te vervaardig.

Ons het ook geen twyfel dat die konstitutionele hof se uitspraak duidelik was dat die verkiesing oor sewe weke moet plaasvind en dat die reëls oor kandidaatvoorleggings nie vir die ANC aangepas kan word nie. Die ANC se rampspoedige voorbereidings en gemiste spertye verdien dieselfde behandeling as dié van die IVP in 2011 en die NFP in 2016. Die DA sal nie toelaat dat die ANC of die OVK – of albei – die reëls manipuleer nie.

Dit beteken dat tientalle meer munisipaliteite en metro’s op die spel is en ’n werklike kans staan om dekades van wanbestuur deur die ANC by die stembus te beëindig. Dit kan die katalisator vir verandering in ons land wees, wat kan deurdring tot die volgende nasionale en provinsiale verkiesings. Ons eie Suid-Afrikaanse lente.

Dade praat harder as woorde. ’n Duidelike mandaat om te regeer en vyf ononderbroke jare om die DA-verskil te demonstreer, sal die DA toelaat om te bewys dat daar nie ’n terugkeer na die ANC-regering sal wees nie. Ons sal wys dat slegs die DA ’n daadwerklike verskil maak. Ons is gereed, ons is opgewonde en ons sê: Bring dit!