‘Niks verkeerd’ daarmee om ‘uitsluitende’ Afrikaans te verbied, sê US-bestuur

Issued by Dr Leon Schreiber LP – DA Kiesafdelingshoof: Stellenbosch
07 Sep 2021 in News

Vind aangeheg ‘n klankgreep deur dr. Leon Schreiber LP.


Die Demokratiese Alliansie (DA) onthul vandag nuwe bewyse wat daarop dui dat die bestuur van die Universiteit Stellenbosch (US) agter geslote deure glo dat daar “niks verkeerd” daarmee is om Afrikaanse studente te verhoed om hul moedertaal in koshuise en op kampus te praat nie.

In weerwil van die US-rektor, Wim de Villiers, se halfhartige pogings om skadebeheer toe te pas nadat die DA die verbod op Afrikaans in koshuise en op kampus in Maart onthul het, het Pieter Kloppers, direkteur van studentesake aan die US, terselfdertyd agter geslote deure aan studenteleiers van die Minerva-dameskoshuis gesê dat daar eintlik “niks verkeerd” is met die koshuis se verbod op die gebruik van Afrikaans nie.

Die DA het deur middel van ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (algemeen bekend as “PAIA”) ’n kopie van ’n ondersoekverslag deur Deloitte bekom. Die verslag dui aan dat Kloppers op 9 Maart 2021 met die huiskomitee van Minerva vergader het nadat eerstejaarstudente gekla het dat hul verbied word om Afrikaans te praat in die koshuis, in hul kamers en selfs op parkiebanke op kampus.

Volgens die Deloitte-verslag het Kloppers tydens hierdie vergadering gesê dat die huiskomitee “niks verkeerd doen” deur ’n beleid van slegs-Engels af te dwing nie. Na aanleiding van hierdie erkenning was lede van die komitee hewig ontsteld dat die US-bestuur nie openlik hul steun aan die verbod op Afrikaans wou toesê nie “ten spyte daarvan dat hul [self] geglo het dat Minerva niks verkeerd doen nie.”

Op dieselfde dag is daar aan eerstejaars gesê dat, tydens die sogenaamde “verwelkomingstydperk,” daar ’n verwagting is dat slegs Engels gepraat sou word, en dat die US verwag dat slegs Engels gepraat sal word.

Die verslag onthul verder dat studenteleiers van Minerva reeds op 4 Maart 2021 besluit het om eerstejaarstudente in te lig dat hul uit die koshuis se verwelkomingsprogram geskop sou word “as hul ’n uitsluitende taal wil praat.” Volgens die verslag is die dreigement dat Afrikaanssprekende eerstejaars uitgesluit sou word “om inklusiwiteit te bevorder” herhaaldelik aan nuwelingstudente gemaak.

Ook opvallend is dat die Deloitte-verslag uitdruklik aanbeveel dat “studente ingelig moet word oor die taalregte soos vervat in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, insluitend dat alle amptelike tale geregtig is op gelykheid en gelyke aansien.” In ’n verklaring oor die Deloitte-verslag het die US-bestuur egter verkies om hierdie aanbeveling geheel en al te ignoreer, wat daarop dui dat hul nie van plan is om dit te implementeer nie.

Hierdie aanbeveling in die Deloitte-verslag strook ook met die DA se eis dat die US dit in hul hersiene taalbeleid duidelik maak dat géén persoon onder enige omstandighede verhoed mag word om die taal van hul eie keuse te praat nie. Die US het tot dusver ook geweier om hierdie eenvoudige onderneming te maak, wat as verdere bewys dien dat die bestuur in der waarheid nie daarin belangstel om die taalregte van Afrikaanssprekendes te beskerm nie.

Die DA glo dat die US se besluit om hierdie getuienis en aanbeveling te ignoreer verder daartoe bydra dat die US se beoogde nuwe taalbeleid onwettig en irrasioneel is omdat dit eenvoudig die praktyke van die 2016-taalbeleid – waaronder ’n hele reeks vergrype teen Afrikaanse studente gepleeg is – voortsit. Die DA berei tans onverpoosd voor op moontlike regsaksie teen hierdie deursigtige plan van die US om Afrikaans tot uitsterwing te verdoem.