So staan sake nou in die DA se saak teen die OVK in die Konstitusionele Hof

Issued by Cilliers Brink LP – DA Woordvoerder
15 Sep 2021 in News

Vind asseblief aangeheg ’n klankgreep van Cilliers Brink LP.

Die DA se saak teen die OVK in die Konstitusionele Hof is een stap nader aan finaliteit met die uitruil van pleitstukke tussen die onderskeie partye.

Ons hofstukke maak dit duidelik dat die OVK regtens geen diskresie het om kandidatelyste weer oop te stel nie – ’n besluit wat ons vermoed geneem is om die ANC te bevoordeel.

Daar is oorgenoeg tekens dat die ANC besig is om ineen te stort, insluitend die party se onvermoë om ’n registrasie-veldtog van stapel te stuur, salarisse te betaal en kandidatelyste op tyd in te dien.

Die rol van die OVK is nie om hierdie probleme vir die ANC te probeer oplos nie. Die verkiesingstydlyn, insluitend die sperdatum vir die indiening van kandidate, behoort nie te verander na gelang van die ANC se behoeftes nie.

Deur hof toe te gaan om ANC-magsmisbruik te stuit staan die DA op vir die oppergesag van die gereg. Ons dring daarop aan dat dieselfde stel reëls vir alle partye moet geld, insluitend die ANC.

Ons demokrasie kan net werk as die regering, staatsinstellings en die samelewing in die geheel die wet gehoorsaam, en as instellings soos die OVK – wat veronderstel is om onafhanklik te wees – wetlike bepalings onpartydig vertolk.

Vir die DA is die feite van hierdie saak voor die hand liggend. Die ANC het die sperdatum vir indiening van kandidate misgeloop. En volgens regspraak in soortgelyke sake het die party geen tweede kanse nie.

Die volgende stap in die proses sal wees vir die Konstitusionele Hof om óf ’n verhoor vas te stel óf die saak op die hofstukke te besleg.

Ons hoop dat die hof sal bevestig dat die proses vir die indiening van kandidate gesluit het en dat die OVK nie die reëls kan buig om die ANC te pas nie