DA betoog teen Nzimande se haatdraende klassifikasie van Afrikaans as ‘uitheemse’ taal

Issued by John Steenhuisen LP – Leier van die Demokratiese Alliansie
12 Oct 2021 in News

Vind asseblief aangeheg ‘n klankgreep deur dr. Leon Schreiber


Die DA het vanoggend buite die kantoor van die Minister van Hoër Onderwys, Blade Nzimande, in Pretoria betoog en aangedring dat Nzimande en die ANC-regering onmiddellik Afrikaans erken as volwaardige inheemse Suid-Afrikaanse taal. Vandag se betoging volg ná maande waarin die DA gepoog het om Nzimande te oorreed om na rede te luister en sy foutiewe klassifikasie van Afrikaans as “uitheems” in sy departement se taalbeleidsraamwerk vir hoër onderwysinstellings reg te stel.

Nadat Nzimande by herhaling geweier het om ag te slaan op die DA se beroep om Afrikaans by sy departement se definisie van Afrika-tale in te sluit, het ons verlede maand ’n klag by die menseregtekommissie ingedien en ’n petisie begin om Afrikaans as inheems te erken. Tydens vandag se betoging het die DA-afvaardiging – gelei deur die federale leier, John Steenhuisen, die DA se skaduminister vir hoër onderwys, Chantel King, en die DA se skaduminister vir openbare dienste en administrasie, dr. Leon Schreiber – die petisie wat deur meer as 5 500 mense onderteken is aan Nzimande se kantoor oorhandig.

Ons petisie dring aan dat Nzimande onmiddellik sy departement se beleidsraamwerk wysig om Afrikaans se status as inheemse Suid-Afrikaanse taal te erken. Die raamwerk beskou tans net tale wat aan die “suidelike Bantoe-taalfamilie” behoort as inheems en sluit daardeur Afrikaans doelbewus uit. Die definisie is onwetekenskaplik en in teenstelling met die presedent wat deur die Grondwethof tot stand gebring is in sy onlangse uitspraak in die Unisa-taalgeding en is sowel kwetsend en haatdraend teen die diverse Afrikaanssprekende taalgemeenskap.

Die beledigende klassifikasie van Afrikaans as “uitheemse” taal baan die weg vir die ANC-regering om verder Afrikaans as ’n moedertaal in onderrig in openbare universiteite te verweer. Die klassifikasie is reeds opgeneem in die nuwe taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch, wat die status van Afrikaans verder wil verkleineer by een van die laaste universiteite wat die kapasiteit het om in dié taal te onderrig.

Die DA se petisie dring aan dat Nzimande in die openbaar en onvoorwaardelik om verskoning vra aan die Afrikaanssprekende gemeenskap vir die wyse waarin hy die gemeenskap se konstitusionele regte tot waardigheid, moedertaalonderrig en gelykheid ondermyn het. Nadat Afrikaans se regmatige status as inheemse taal erken is, vra die DA se petisie voorts dat Nzimande alle openbare universiteite versoek om hul taalbeleide aan te pas om Afrikaans se status as volwaardige inheemse taal te reflekteer sodat moedertaalonderrig in Afrikaans uitgebrei kan word, pleks van beperk.

Nzimande se blatante diskriminasie teen Afrikaans is direk in teenstelling met die meerderheidsuitspraak wat onlangs deur die Grondwethof in die Unisa-taalgeding gelewer is. In sy uitspraak bevestig regter Steven Majiedt Afrikaans se status as inheemse taal en as “een van die kulturele skatte van Suid-Afrikaanse nasionale lewe [en] moontlik die grootste ‘reënboog’ van alle Suid-Afrikaanse tale”.

Die Hof betreur “die wanopvatting dat dit die ‘taal van die wittes’ is en ‘die taal van die onderdrukker’ [as] ’n ongeregtige uitbeelding van die taal en sy ware wortels”. Majiedt beklemtoon voorts dat “Afrikaans vandag oorwegend deur swart mense gepraat word. En nie net deur swart mense in die sogenaamde ‘bruin’ buurte nie, maar ook in baie swart woonbuurte in verskeie streke in die land. Dit is die taal van die prinse en armes, wat gemaklik bestaan in die akademie en beroepe aan die een kant, sowel as in alledaagse taal andersyds”.

In kontras tot Nzimande en die ANC-regering se volgehoue uittarting van dié uitspraak, assosieer die DA ons met trots by dié seining wat deur die Hof verwoord is dat Afrikaans as ’n inheemse Suid-Afrikaanse taal is. Ons sal voortgaan om elke gereedskap tot ons beskikking in te span om Nzimande te dwing om sy haatdraende klassifikasie van Afrikaans reg te stel, en om al ons land se linguistieke en kulturele skatte van die ANC se ideologiese aanval op ons inheemse tale te beskerm.