DA verkla Blade Nzimande by Verenigde Nasies

Issued by Dr Leon Schreiber LP – DA Kiesafdelingshoof: Stellenbosch
16 Nov 2021 in News

Vind asseblief aangeheg ’n klankgreep van Dr Leon Schreiber LP

Die Demokratiese Alliansie (DA) het gister ’n klag by die Verenigde Nasies se Organisasie vir Opvoedkunde, Wetenskap en Kultuur (UNESCO) aanhangig gemaak teen die Suid-Afrikaanse regering en die Minister van Hoër Onderwys, Blade Nzimande. Die DA versoek met die klagte dat die Verenigde Nasies (VN) ingryp om Nzimande en die regering te dwing om Afrikaans sowel as die Khoi-, San- en Namatale as volwaardige inheemse Suid-Afrikaanse tale te erken in die nuwe Taalbeleidsraamwerk vir Hoër Onderwys.

Volgens UNESCO se klagteprosedure moet die Suid-Afrikaanse regering binne drie maande reageer op die DA se klag dat Nzimande se klassifisering van hierdie tale as “uitheems” artikels 26 en 27 van die Universele Verklaring van Menseregte verbreek. Hierdie artikels stipuleer dat almal die reg op opvoeding het, dat hoër onderwys vir almal beskikbaar moet wees op grond van meriete, dat onderrig gebruik moet word om “begrip, verdraagsaamheid en vriendskap tussen alle nasies, rasse of etniese groepe [te] bevorder” en dat almal die reg het om vrylik aan die kulturele lewe van hul gemeenskap deel te neem.

Die DA glo dat die haatlike klassifisering van Afrikaans sowel as Khoi-, San- en Namatale as “uitheems” al hierdie waardesverbreek.

Die doel van Nzimande se Taalbeleidsraamwerk is om “inheemse tale as tale van die akademie, onderrig, leer en kommunikasie aan Suid-Afrikaanse universiteite” te ontwikkel en versterk. Die uitsluiting van sekere tale uit die definisie van “inheemse tale” beteken dus dat hierdie tale uitgesluit word uit die beleid se pogings om Suid-Afrikaanse tale te ontwikkel en versterk.

President Cyril Ramaphosa het ook reeds erken dat Afrikaanssprekendes “bang en bekommerd” is oor die implikasie van die wanklassifisering. Die rede hiervoor is dat die klassifisering van Afrikaans sowel as Khoi-, San- en Namatale die indruk skep dat die sprekers van hierdie tale op die een of ander manier “uitheems” of “vreemd” is aan Suid-Afrika, en dus nie werklik hier hoort nie. Hierdie poging om sekere landsburgers as “vreemd” te klassifiseer druis lynreg in teen artikel 26 se stipulasie dat onderwys gebruik moet word om “begrip, verdraagsaamheid en vriendskap” te bevorder.

Laastens sal die Taalbeleidsraamwerk ook daartoe lei dat die regering minder hulpbronne beskikbaar maak aan tale wat hulle beskou as “uitheems.” Daardeur sal die sprekers van Afrikaans sowel as Khoi-, San- en Namatale ontneem word van die hulpbronne wat hul benodig om die kulturele lewe van hul gemeenskappe te onderhou – in direkte teenstelling met artikel 27 van die Universele Verklaring van Menseregte.

Die DA is genoop om hierdie klag te lê nadat dit duidelik geword het dat die regering weier om hierdie wanklassifisering reg te stel. Die DA het reeds drie maal aan Nzimande geskryf met die versoek om die definisie reg te stel. Ons het ook ’n klag by die Menseregtekommissie ingedien, ’n openbare petisie oorhandig en aan President Cyril Ramaphosa daaroor geskryf. Die regering het gekies om hierdie pleidooie te ignoreer – wat ons met geen ander keuse laat as om die internasionale gemeenskap te nader om hulp nie.

Ons versoek aan die VN beklemtoon ook die dringendheid van die saak. Die nuwe Taalbeleidsraamwerk tree in Januarie 2022 in werking, en ons hoop dat die internasionale gemeenskap ons sal help om die regering te dwing om voor daardie datum Afrikaans sowel as Khoi-, San- en Namatale as volwaardige inheemse tale te erken wat ook geregtig is op ondersteuning en erkenning.