Niks te vier in Universiteit Stellenbosch se nuwe taalbeleid nie

Issued by Dr Leon Schreiber LP – DA Kiesafdelingshoof: Stellenbosch
03 Dec 2021 in News

Daar is niks te vier vir Afrikaanssprekende studente in die Universiteit Stellenbosch (US) se nuwe taalbeleid nie. Die beleid sit bloot die ideologiese proses voort wat in 2016 onder rektor Wim de Villiers begin is om die universiteit heeltemal te verengels, met Afrikaans en Xhosa wat as goedkoop versierings ingespan word om hierdie agenda te bevorder.

Die Demokratiese Alliansie (DA) het deurlopend insette gelewer tydens die ontwikkeling van die nuwe taalbeleid,waarmee ons gepleit het vir ‘n nuwe benadering wat aan Afrikaans gelyke status met Engels gee. Ons het ‘n petisie met meer as 6 500 handtekeninge aan die universiteit oorhandig en honderde individue gehelp om kommentaar op die beleid te lewer. Dit lyk egter asof die US-bestuur elke liewe een van hierdie derduisende kommentare botweg geïgnoreer of afgemaak het in hul soeke na totale verengelsing.

Die operasionele bepalings in paragraaf 7.1 van die beleid maak dit duidelik dat Engels in alle opsigte die oorheersendetaal aan die US is. Meeste klasse word nou eksklusief in Engels aangebied, met bloot ‘n vae “opsomming” wat aan die einde in Afrikaans verskaf word. Die beleid diskrimineer ook teen Afrikaanssprekende studente wat tolkdienste betref, aangesien tolking altyd tydens die paar oorblywende Afrikaanse lesings aan Engelse studente verskaf word, terwyl Afrikaanse studente slegs in hul eerstejaar geregtig is op tolkdienste tydens Engelse lesings. En die nuwe beleid misluk geheel en al om die nuwe moontlikhede vir meertaligheid wat deur tegnologie en afstandonderrig gebied word, te benut.

Verder word die voorwaarde “waar redelikerwys doenlik” op 16 verskillende plekke in die nuwe beleid ingespan om die gebruik van Afrikaans in te perk en aan bande te lê, terwyl dieselfde voorwaarde nie een keer toegepas word op die gebruik van Engels nie. Op lafhartige wyse gebruik die US ook gedienstig steeds die ANC Minister Blade Nzimande se klassifisering van Afrikaans as “uitheems” in die nuwe beleid.

Die DA is verder bekommerd oor die US se weiering om dit in die nuwe beleid duidelik te maak dat studente nie verbied mag word om Afrikaans te praat in hul koshuise en in ander openbare ruimtes nie. Aan die begin van die vorige akademiese jaar het verskeie US-koshuise die gebruik van Afrikaans heeltemal verban. Hierdie verbod is die onderwerp van ‘n ondersoek deur die Menseregtekommissie wat deur die DA aangevra is. Die US se weiering om dit duidelik te maak dat niemand verbied mag word om hul moedertaal te gebruik nie, wys dat hulle niks geleer het uit die klaaglike mislukking van die 2016 taalbeleid nie.

Die DA sal daarom voortgaan om ons sterk netwerk en vertrouensverhouding met US-studente te gebruik om die situasie op die kampus te monitor sodat ons enige diskriminasie teen Afrikaanse studente onmiddellik kan aanspreek.

Die DA en StudentePlein gaan intussen ook voort met ons hofsaak teen die US se misbruik van die Covid-pandemie om weg te doen met nuwe Afrikaanse leermateriaal. Hierdie hofsaak maak dit duidelik dat die US-bestuur se praatjies in die nuwe taalbeleid oor hul kosmetiese verbintenis tot meertaligheid ‘n blote klug is. Die bestuur se aksies wys dat hul selfs bereid is om hul eie taalbeleid op onwettige wyse te verbreek sodra ‘n geleentheid hom voordoen om Afrikaans selfs verder af te takel.  

Dit is duidelik dat die Wim de Villiers-regime nie sal rus totdat Afrikaans heeltemal aan die US verdwyn het nie. En juis daarom sal die DA aanhou opstaan vir die reg tot moedertaalonderrig aan die laaste universiteit in die suide van die land wat onderrig in Afrikaans kan bied.