DA kondig petisie en betoging aan teen ANC plan om Afrikaans uit Taalmonument te verwyder

Issued by Dr Leon Schreiber LP – DA Lid van die Parlement
21 May 2022 in News

Vind aangeheg ‘n klankgreep deur Dr Leon Schreiber LP.

Die Demokratiese Alliansie (DA) doen ‘n beroep om alle Suid-Afrikaners wat ons land se ryk taaldiversiteit koester om ons petisie en betoging te ondersteun teen die ANC se nuutste aanslag op die regte en erfenis van ons land se uiteenlopende Afrikaanssprekende gemeenskap.

Kort nadat die DA daarin geslaag het om vir Minister Blade Nzimande te dwing om te erken dat Afrikaans wel inheems is, het ons uitgevind van sy kollega, Nathi Mthethwa, se plan om Afrikaans te verwyder uit die naam van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl.

Die ANC gee duidelik meer om oor hul ideologiese krygstog teen Afrikaans as oor ernstige krisisse soos onbekostigbare brandstof- en kospryse.

Nes ons vir Nzimande bloedneus gegee het, is die DA vasbeslote om nou vir Mthethwa in sy spore stuit.

Ons het egter jou hulp nodig.

Onderteken asseblief die DA se petisie teen hierdie waansinnige ANC-plan. Die petisie sal volgende Saterdag tydens ‘n betoging in die Paarl aan die bestuur van die Afrikaanse Taalmonument oorhandig word as deel van die openbare deelname proses rondom die beoogde naamsverandering.

Verskeie senior DA-leiers sal teenwoordig wees om persoonlik protes aan te teken teen die naamsverandering. Ons doen ‘n beroep op inwoners van die Paarl en omliggende streke om saam met ons te kom betoog voor die saal van die Strooidakkerk vanaf 08:00 op Saterdag, 28 Mei.

Die Taalmonument is deel van die Paarl se DNS, en ons kan nie eenvoudig toekyk hoe dit ook ‘n slagoffer van ANC ideologie word nie.

Gegewe die gebrekkige kommunikasie en openbare deelname rondom hierdie voorstel, is volgende Saterdag ons eerste en laaste kans om ‘n duidelike boodskap aan die ANC en die bestuur van die Afrikaanse Taalmonument te stuur.

Ons boodskap is eenvoudig: ons sal onder geen omstandighede aanvaar dat ‘n monument wat juis ‘n viering is van die uiteenlopende aard van hierdie unieke Afrikataal, van alle betekenis gestroop word net om die ANC se obsessiewe haat vir Afrikaans te bevredig nie.