DA oorhandig versoekskrif met byna 10 000 handtekeninge aan bestuur van die Afrikaanse Taalmonument

Issued by Dr Leon Schreiber LP – DA Kiesafdelingshoof: Stellenbosch
07 Jun 2022 in News

Vind asseblief aangeheg ’n klankgreep van Dr Leon Schreiber LP.

Die DA het aan die einde van verlede week ’n versoekskrif met byna 10 000 handtekeninge aan die bestuur van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument oorhandig. Die handtekeninge is ingesamel as deel van die DA se veldtog en protes-konsert teen Minister Nathi Mthethwa, se plan om Afrikaans te verwyder uit die naam van die Taalmonument – ’n waansinnige plan wat die monument van alle betekenis sal stroop.

Elke persoon wat die petisie onderteken het, het die volgende boodskap aan die bestuur gestuur:

Na ’n hewige stryd deur die DA, is die ANC-regering onlangs gedwing om die waarheid te erken dat Afrikaans wel ’n inheemse Afrikataal is. Hierdie deurbraak is egter byna onmiddellik ontsier deur die nuus dat die ANC Minister van Sport, Kuns en Kultuur, Nathi Mthethwa, daarop aandring dat Afrikaans verwyder moet word uit die naam van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl.

Die absurde en roekelose voorstel om Afrikaans te verwyder uit ’n monument wat juis opgerig is as ’n viering van die invloede van dwarsoor Afrika en die wêreld wat gelei het tot die totstandkoming van hierdie unieke taal, kom neer op ’n growwe aanval op Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners – en veral op die Afrikaanssprekende meerderheid in die Wes-Kaap, waar die Taalmonument geleë is.

Die DA doen ’n dringende beroep op die bestuur van die Afrikaanse Taalmonument om nie die knie te buig voor die waansin van Nathi Mthethwa en die ANC nie. Eerder as om monumente van hul betekenis te stroop en ons diversiteit te probeer aanval, behoort Suid-Afrika se ryk en diverse taalerfenis gekoester en beskerm te word.

Die DA bedank elke Suid-Afrikaner wat ons petisie onderteken het en daardeur hul deel gedoen het om ons land se ryk taalerfenis te beskerm teen die nasionale ANC regering. Ons dring daarop aan dat Minister Mthethwa in die openbaar aankondig dat die Taalmonument se naam nie verander sal word nie, en dat beheer van die Afrikaanse Taalmonument aan die DA-beheerde Wes-Kaap oorgedra sal word aangesien die nasionale regering duidelik geen respek vir hierdie kosbare deel van ons erfenis het nie.