In antwoord op nuutste DA parlementêre vraag, bevestig Nzimande dat Afrikaans as inheems erken sal word

Issued by Dr Leon Schreiber LP – DA Kiesafdelingshoof: Stellenbosch
22 Jun 2022 in News

Twee maande nadat die DA ’n regsmening onthul het wat bevestig dat die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, die pot mis gesit het met sy poging om Afrikaans as “uitheems” te klassifiseer, het ons nou ook ’n onderneming uit hom gewurg dat sy departement die definisie van inheemse tale in die Taalbeleidsraamwerk vir Hoër Onderwys sal aanpas.

Vir die heel eerste keer het ons nou ook daarin geslaag om Blade Nzimande te dwing om persoonlik te erken dat Afrikaans ’n inheemse taal is.

Hierdie inligting word bevat in Nzimande se nuutste antwoord op ’n DA parlementêre vraag, waarin ons vra of hy inderdaad die Taalbeleidsraamwerk gaan aanpas soos deur sy eie departementele regsmening aanbeveel word, en wanneer die wysigings sal geskied.

In antwoord bevestig Nzimande: “Die definisie van inheemse tale in die Beleidsraamwerk sal aangepas word dienooreenkomstig met die regsmening soos ontvang en daar was nooit enige dispuut in die Taalbeleidsraamwerk oor die status van Afrikaans as ’n inheemse taal nie.”

Dit bly egter kommerwekkend dat Nzimande die DA se vraag oor die sperdatum vir die implementering van die wysigings ignoreer. Daarom gaan ons steeds die druk volhou totdat die wysigings deurgevoer is.

Wat ook onthutsend is, is dat Nzimande nou maak asof daar nooit enige “dispuut” was oor die status van Afrikaans nie. Dit is eenvoudig onwaar. Inteendeel: Nzimande se eie regsmening verklaar dat die oorspronklike weergawe van die definisie “strydig met die Grondwethof se beskouing van Afrikaans as ’n inheemse taal is.”

Hierdie is presies dieselfde lafhartige strategie wat deur Nzimande se anti-Afrikaanse meeloper, die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, gebruik word. Nadat oorweldigende druk deur die DA en openbare drukgroepe hom gedwing het om af te sien van die waansinnige plan om Afrikaans te verwyder uit die naam van die Afrikaanse Taalmonument, het hy omgedraai en probeer aanvoer dat daar nooit so plan was nie – ten spyte daarvan dat die direksie van die Taalmonument dit bevestig het.

Dit is duidelik dat hierdie ANC regering nie net ’n veldtog teen Afrikaans dryf nie, maar dat hulle ook te lafhartig is om dit te erken wanneer die DA en die burgerlike samelewing terugbaklei. Hul ontkennings onderskat egter die mense van Suid-Afrika, vir wie se taalregte die DA onverpoosd voort sal veg teen alle soortgelyke ANC aanslae.