Prioritiseer pasiënte, nié politici – Waarom is ministers vrygestel van beurtkrag en hospitale nie?

Issued by Michele Clarke LP & Ghaleb Cachalia LP –
12 Jul 2022 in News

Vind asseblief aangeheg ’n klankgreep van Michele Clarke LP.

Die DA vind dit skandalig dat die Bryntirion-landgoed, ’n klein woonbuurt in Pretoria waar die amptelike wonings van Ramaphosa se kabinet geleë is, vrygestel is van beurtkrag terwyl hospitale nié is nie.

Volgens die Nasionale Standaard genaamd NRS 048-9:2019 is hospitale van die nasionale sleutelpunte wat gelys word onder instansies wat “geskeduleer is vir beurtkrag”. Hoewel hospitale volgens wet verplig word om rugsteun-kragbronne te hê en sommige munisipaliteite, soos die Stad Kaapstad, hulle vrystel van beurtkrag, is die DA sterk van mening dat die NRS dit nie opsioneel moet maak vir hospitale om van beurtkrag vrygestel te word nie.

Die DA sal aan die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika skryf en vra vir ’n onmiddellike hersiening van die NRS-regulasies. Hospitale moet dringend aangewys word as vrygestel van beurtkrag en die kabinet se Bryntirion-landgoed moet net soos almal op beurtkragskedules geplaas word.

Dit is moreel verkeerd vir die argitekte van die voortdurende beurtkragkrisis om ononderbroke kragtoevoer te hê, terwyl hospitale, wat dikwels in die wedloop teen tyd is om lewens te red, te kampe het met verlies aan krag en onbetroubare kragopwekkers.

Oorsigbesoeke wat die DA aan staatshospitale gedoen het om die impak van beurtkrag op die voorsiening van gesondheidsorg te bepaal, het aan die lig gebring dat die meeste van hierdie gesondheidsinstellings nie die nodige hulpbronne het om ’n stabiele kragtoevoer tydens beurtkrag te handhaaf nie. Een van die hospitale, Rahima Moosa in Johannesburg, het onbetroubare kragopwekkers en het dikwels probleme met die verskaffing van diesel om die kragopwekkers aan te dryf.

Met 2022 op koers om die ergste beurtkragjaar op rekord te wees, het Ramaphosa se kabinet geen idee hoe om hierdie dringende nasionale krisis op te los nie. Die ekonomie het honderde miljarde rande verloor en miljoene Suid-Afrikaners het hul werk verloor weens beurtkrag, maar tog kry die minister se enklawe in Bryntirion-landgoed steeds ononderbroke kragtoevoer.

Die DA sal elke hulpmiddel tot ons beskikking gebruik om hierdie oordeelsfout reg te stel en ons hospitale teen die ongerief van beurtkrag te beskerm.