DA veroordeel afknouery van leerders by Hoërskool Vishoek

Issued by Cilliers Brink LP – DA Nasionale Woordvoerder
04 Nov 2022 in News

Vind asseblief aangeheg ‘n klankgreep deur Cilliers Brink LP.

Die Demokratiese Alliansie (DA) verwerp onomwonde die boeliegedrag wat na bewering onlangs by ‘n Hoërskool in Vishoek plaasgevind het – in die naam van sogenaamde diversiteitsopleiding.

Om enige iemand te demoniseer op grond van hul velkleur is verwerplik in ‘n grondwetlike demokrasie soos ons s’n. Des te meer as die slagoffers van hierdie boeliegedrag skoolkinders is.

Ons verwelkom die besluit van die Wes-Kaapse regering om hierdie tipe kursusse onmiddellik op te skort. Hierdie is nie die manier om mense aan te moedig om met deernis en begrip om te gaan in ‘n diverse omgewing nie.

Dit is ook heeltemal onaanvaarbaar dat onderwysers uitgesluit is van die verpligte “diversiteitskursus” waar leerders na bewering getraumatiseer is, en dat leerders verbied is om die lokaal te verlaat of besware te opper.

Die nasionale leierskap van die DA gaan met die politieke leierskap van die Wes-Kaap praat om seker te maak dat die individue wat verantwoordelik is vir hierdie gebeure aan die pen ry. Geen leerder in enige deel van die land moet onderwerp word aan die boeliegedrag wat hier beweer word nie.