DA wen MRK-saak oor verbod op Afrikaans by Stellenbosch; Dr Leon Schreiber stel mosie van wantroue in teen US-Rektor

Issued by Dr Leon Schreiber LP – DA Kiesafdelingshoof: Stellenbosch
15 Mar 2023 in News

Vind asseblief aangeheg klangrepe in Afrikaans en Engels deur Dr. Leon Schreiber LP.

In ‘n reuse-oorwinning vir taalregte, het die Demokratiese Alliansie (DA) ons saak by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) teen die verbod op Afrikaans aan koshuise van die Universiteit Stellenbosch (US), gewen. In ‘n verslag wat vandag uitgereik is, bevestig die MRK dat die US menseregteskendings gepleeg het teen Afrikaanssprekende studente deur die implementering van ‘n beleid van “slegs Engels” in sekere koshuise tydens die 2021 verwelkomings-tydperk. Hierdie vergrype is herhaal tydens die onlangse 2023 verwelkomings-tydperk. Die bevinding volg op ‘n klagte wat die DA op 17 Maart 2021 by die MRK ingedien het, nadat verskeie eerstejaarstudente die party genader het vir hulp omdat hulle verbied is om Afrikaans te praat in koshuise, op kampus en selfs op parkiebanke.

DA-leier John Steenhuisen en die DA se kiesafdelingshoof in Stellenbosch, Dr Leon Schreiber, het destyds die kampus persoonlik besoek om getuienis in te samel en aan die MRK te oorhandig. Die verslag wat vandag vrygestel is, is dus ‘n enorme oorwinning vir die DA, vir Afrikaanse studente op Stellenbosch, en vir die taalregte van alle Suid-Afrikaners.

Vir die heel eerste keer in ons demokratiese geskiedenis, het ‘n grondwetlike instelling nou ‘n streep in die sand getrek teen die ondermyning van Afrikaanse taalregte. Deur hierdie oorwinning stuur die DA ‘n duidelike boodskap nie net aan die US-bestuur nie, maar ook aan Afrikaans-haters soos Panyaza Lesufi: tot hier toe en nie ‘n sentimeter verder nie.

Die verslag bevestig die DA se klagte dat die US die menseregte van Afrikaanse studente geskend het deur beperkings te plaas op hul “vryheid van spraak, taal en kultuur, gelykheid, en menswaardigheid.” Hierdie bevinding is gegrond op die MRK se bevestiging van die DA se klagte dat:

  • Tydens die verwelkomings tydperk in 2021 het koshuise “‘n beleid toegepas wat gepoog het om die taal wat studente praat te reguleer. Daar is van studente vereis…om Engels te praat vir die doel van inklusiwiteit,” met Afrikaans was uitgesonder is “as die taal wat veral vermy moet word, vir beide demografiese en historiese redes;|
  • In sekere gevalle het koshuise “duidelik Afrikaans uitgesonder as ‘n taal wat nie gepraat moet word tydens die verwelkomings-tydperk nie, selfs wanneer nuwe studente en hul ouers verkies het om Afrikaans te praat;” en
  • Die beleid van “slegs Engels” het “onteenseglik ‘n verpligting op studente geplaas om daaraan te voldoen,” te midde van dreigemente dat studente wat nie Engels praat nie aan dissiplinêre stappe en sosiale uitsluiting onderwerp sou word.

Te midde van hierdie menseregteskendings het die Kommissie bevind dat die US se verbod op Afrikaans neerkom op ‘n poging “om die taal wat elke student moet praat in verskeie kontekste te beheer” wat gelei het tot “absurde en kommerwekkende gevolge.”

Nadat die verslag bevestig dat die US inderdaad ‘n reeks fundamentele menseregte geskend het met die toepassing van “slegs Engels,” gee die MRK opdrag dat Rektor Wim de Villiers – wat persoonlik tydens sy getuienis voor die Kommissie probeer ontken het dat hierdie menseregtevergrype plaasgevind het – die volgende regstellende stappe moet neem:

  • De Villiers moet, in die openbaar, ‘n geskrewe verskoning publiseer wat erken dat die menseregte van Afrikaanse studente verbreek is en onderneem om stappe te doen wat sal verseker dat geen student ooit weer verhoed word om enige taal te praat nie;
  • De Villiers moet ook persoonlik aan alle koshuisleiers skryf met ‘n opdrag dat geen beleid van “slegs Engels,” of enige soortgelyke beleid, toegepas mag word nie;
  • Die US moet opleiding aan koshuise verskaf oor hierdie kwessie;
  • Laastens is die DA verheug dat die Kommissie gehoor gegee het aan ons versoek dat die universiteit se taalbeleid ook gewysig moet word om enige toekomstige verbod op Afrikaans te verhoed.

In ‘n verdere belangrike wending, verwerp die verslag ook die verwronge wyse waarop die US gereeld die konsep van “inklusiwiteit” misbruik as ‘n verskoning om die regte van Afrikaanse studente te ondermyn. Die verslag maak dit duidelik dat “ons Grondwet ‘n samelewing sonder diskriminasie vereis, maar nie een waar almal geregtig is op absolute insluiting in alles nie.” Die MRK kom dan tot die gevolgtrekking dat die US “die teenoorgestelde [van insluiting] bereik het, aangesien die beleid daartoe gelei het dat ‘n groot aantal nie-Engelssprekende studente, veral Afrikaanse studente, uitgesluit voel en dat dit inderdaad gelei het tot verhoogde spanning en verdeeldheid in die koshuise.”

  • In die woorde van die Kommissie: “Inklusiwiteit teen alle koste het gelei tot uitsluiting op ‘n wyse wat neerkom op onregverdige diskriminasie en ander menseregte vergrype.”

Die DA verwelkom hierdie MRK-verslag as ‘n belangrike streep in die sand wat uiteindelik kan begin om die gety van diskriminasie op grond van taal, om te keer. Die verslag bevestig ook die belangrikheid van die DA se voortgesette werk ter beskerming van taalregte soos uiteengesit in ons Grondwet. Ons bedank die brawe studente en burgerlike organisasies wat voor die Kommissie getuig het, sowel as die MRK kommissarisse en personeellede wat hierdie saak ernstig opgeneem het, en onderneem om druk toe te pas sodat die verslag se bevindinge toegepas word – insluitend die wysiging van die US-taalbeleid om Afrikaanse studente voortaan te beskerm.

Die MRK verslag maak dit ook duidelik dat die US-bestuur verantwoordelik is vir die toepassing van hierdie beleid van “slegs Engels.” Ten spyte van herhaalde versoeke deur die DA, studente organisasies en die breër Afrikaanssprekende gemeenskap dat De Villiers die verbod teen Afrikaans moet aanspreek, het hy by herhaling verkies om hierdie pleidooie te ignoreer. Die DA is juis gedwing om die MRK te nader omdat De Villiers se enigste reaksie op die verbod op Afrikaans was om dit te ontken. Deur te ontken dat die verbod ooit gebeur het, het De Villiers bygedra tot ‘n herhaling van die vergrype vroeër hierdie jaar.

Om verantwoordbaarheid en geregtigheid te verseker vir die duisende Afrikaanse studente wie se menseregte op hierdie wyse geskend is, het Dr Leon Schreiber – wat ‘n lid is van die US-raad – aangekondig dat hy by die volgende raadsvergadering ‘n dringende mosie van wantroue sal instel teen De Villiers. Dit sal geskied in terme van paragraaf 42 (3) van die US-statuut, op grond van die MRK se bevestiging van regsoortredings en ernstige wangedrag weens De Villiers se versuim om die vergrype aan te spreek.