Die DA verwelkom Stellenbosch Universiteit se verskoning oor die verbod op Afrikaans

Issued by Dr Leon Schreiber LP – DA Kiesafdelingshoof: Stellenbosch
18 Apr 2023 in News

Die Demokratiese Alliansie (DA) neem kennis van en verwelkom die Universitet van Sellenbosch se publieke en “ondubbelsinnige” verskoning oor die verbod wat in 2021 op die gebruik van Afrikaans in sommige koshuise ingestel is deur ‘n beleid van “slegs Engels”.

Die effek van hierdie beleid was dat sommige nuwelingstudente aangesê is om nie Afrikaans in hul kamers, op kampus en selfs op parkbanke te praat nie.

Die universiteit se verskoning volg nadat die DA verlede maand ons saak by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) teen die verbod gewen het, met die kommissie wat bevestig het dat die verbod die menseregte van Afrikaanssprekende studente op vryheid van uitdrukking, taal en kultuur, gelykheid en menswaardigheid geskend het.

Benewens die vereiste van ‘n openbare verskoning, het die SAMRK aanbeveel dat bykomende opleiding verskaf word om te verseker dat geen student ooit verhinder word om hul taal van keuse te praat nie, dat koshuisleiers ingelig moet word dat geen beleid van “slegs Engels” geïmplementeer mag word nie, en dat die universiteit sy taalbeleid aanpas om dit uitdruklik te maak dat geen student se taalregte geskend mag word nie.

Die universiteit se verskoning sinspeel op hierdie aspekte, en die DA sal die implementering fyn dophou, insluitend die verandering aan die taalbeleid wat ons aanvanklik voorgestel het.

Terwyl ons die SAMRK-verslag as ’n baie betekenisvolle oorwinning vir taalregte beskou en die US se verskoning en onderneming verwelkom om hierdie mistasting reg te stel, moet kennis geneem word dat berigte van ’n soortgelyke verbod op Afrikaans weer tydens die 2023-verwelkomingstydperk opgeduik het.

Die lakmoestoets van die universiteit se toewyding om nooit ‘n herhaling van hierdie menseregteskendings toe te laat nie, sal sy vermoë wees om daad by die woord te voeg. En sou sulke onaanvaarbare oortredings weer opduik, hoop ons ook dat dit nie nog ‘n SAMRK-saak, en meer as twee jaar, sal neem vir die universiteit om op te tree teen enige persoon wat die gebruik van inheemse tale probeer verbied nie.