Na oorwinning vir Afrikaans op Stellenbosch, dwing DA-druk die SAPS om ‘slegs Engels’ beleid terug te trek

Issued by Okkie Terblanche LP – DA Skadu-adjunkminister van Polisie
14 Apr 2023 in News

Nota aan redakteurs: Vind aangeheg Afrikaans klankgreep deur Okkie Terblanche LP.

“Alle Provinsiale Kommissarisse sal deur die Nasionale Kommissaris opdrag gegee word om enige provinsiale taalopdrag, wat in stryd met nasionale beleid is, terug te trek.”

Dit was die antwoord deur Polisieminister Bheki Cele op ‘n skriftelike parlementêre vraag waarin die DA bevraagteken het waarom die Wes-Kaapse provinsiale kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens ’n opdrag uitgereik het dat A1-slagoffers se verklarings slegs in Engels afgeneem sal word.

Net soos ons oorwinning aan die Universiteit van Stellenbosch verlede maand waar die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie bevind het dat die US die menseregte van Afrikaanssprekende student geskend het, beskou die DA hierdie opdrag as ‘n reuse-oorwinning.

Op 13 Maart 2023 het ek aan beide die Nasionale Polisiekommissaris en die Wes-Kaapse Provinsiale Kommissaris geskryf en hulle meegedeel dat hierdie opdrag lynreg in stryd is met die bepalings van beide artikel 6 van die Grondwet en die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale, 2012.

Die Grondwet vereis dat die nasionale of enige provinsiale regering ten minste twee amptelike tale moet gebruik, met inagneming van die gebruik, praktiese, koste en voorkeur van die bevolking en balans van behoeftes.

Die opdrag in die Wes-Kaap dat slagoffers se verklarings slegs in Engels afgelê kon word, was niks anders as plein diskriminasie nie.

Om al die ander 10 amptelike tale uit te sluit, sonder enige rasionele basis, sal ongelooflik nadelig wees vir die regstelsel en verklarings sal onakkuraat wees en sal moontlik daartoe lei dat slagoffers glad nie na vore kom nie.

In ‘n provinsie waar Afrikaans, isiXhosa en baie ander tale prominent gebruik word, sal dit ‘n geweldige onreg wees om slagoffer te verbied om hul moedertaal te gebruik.

Dit is nie die eerste keer dat ‘n opdrag van hierdie aard uitgereik word nie. Dit het al voorheen in Limpopo sowel as in die Noord-Kaap gebeur. Na die reaksie van die Minister verwelkom die DA egter die verwydering van hierdie diskriminerende taalbeleide ook uit hierdie provinsies.

Die DA sien uit na die openbare terugtrekking van enige uitsluitende taalopdrag wat deur ‘n Provinsiale Kommissaris van die SAPD uitgereik is en sal voortgaan om te verseker dat slagoffers die waardigheid, respek en geregtigheid gegun word wat hulle verdien.