DA-druk hou raskwotas op ’n afstand

Issued by Dr Michael Cardo LP – DA Skaduminister van Indiensneming en Arbeid
07 Sep 2023 in News

Ondanks bewerings van die teendeel, is daar nog nie ‘n vasgestelde datum vir die implementering van die Wysigingswet op Diensbillikheid nie. Dit is bevestig in gister se Arbeidsportefeulje-komiteevergadering deur die Departement se Direkteur-generaal, mnr Thobile Lamati. Derhalwe is die sektorale teikens, oftewel raskwotas, wat ‘n paar maande gelede vir openbare kommentaar in die koerant gepubliseer is, nog nie van krag nie.

Die departement van indiensneming en arbeid het op ‘n landwye toer gegaan om minderheidsgemeenskappe te probeer oortuig dat die wysigings aan die wet skadeloos is en dat dit die “transformasie” van die ekonomie sal meebring.

Dit is ‘n leuen. Die wet sal in wese die Minister van Arbeid, Thulas Nxesi, die mag gee om raskwotas op die arbeidsmag oor nasionale ekonomiese sektore en nywerhede af te dwing.

Dit kom neer op gevaarlike sosiale ingenieurswese. Dit sal beleggers afskrik, groei wurg en enige hoop om werk te skep vernietig, terwyl minderhede soos tweedeklasburgers behandel word. Daarom het die DA die hof genader om dit om te keer.

Ons stel ‘n toekoms voor sonder sulke raswette – waar die private sektor bevry word van oorregulering. Dit is die enigste manier om ‘n beduidende duik in die werkloosheidsyfer te maak.

Wees deel van die missie om Suid-Afrika te red, kry hulp om te registreer om te stem by check.da.org.za