Stem DA in 2024 om Afrikaans as ‘n volwaardige inheemse taal te erken

Issued by Dr Leon Schreiber LP –
05 Oct 2023 in News

Vind asseblief aangeheg ‘n klankgreep deur Dr Leon Schreiber LP.

Meer as twee jaar sedert die DA ‘n terugvegpoging geloods het teen Minister van Hoër Onderwys, Blade Nzimande, se slinkse plan om Afrikaans sowel as Khoi- en Santale as “uitheems” te klassifiseer in die Taalbeleidsraamwerk vir Hoër Onderwys – en nege maande nadat Nzimande onder druk van die DA onderneem het om die definisie aan te pas – het sy departement nou uiteindelik ‘n gewysigde weergawe in die Staatskoerant gepubliseer.

Maar eerder as om eenvoudig die wetenskaplike definisie te gebruik – dat ‘n taal inheems is in die gebied waar dit ontwikkel het – speel Nzimande met woorde om steeds teen Afrikaans te diskrimineer.

Die nuwe definisie van inheemse tale, wat op 7 Julie gepubliseer is, fokus op tale “wat inheems is aan ‘n streek of land en gepraat word deur inheemse mense. Die term word in hierdie beleidsraamwerk uitruilbaar gebruik met ‘inheemse Afrikatale’ en dit verwys na voorheen gemarginaliseerde Suid-Afrikaanse tale waarvan die gebruik en status histories ingekort is, soos vervat in afdeling 6(2) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika.”

Die vorige definisie het gelui dat slegs tale wat behoort aan die “Suid-Bantoe-taalfamilie” as inheems beskou word. Dit is dus ‘n betekenisvolle oorwinning dat die DA vir Nzimande kon dwing om te erken dat tale soos Afrikaans en Khoekhoegowab nie as “uitheems” geklassifiseer kan word bloot omdat dit nie “Suid-Bantoetale” is nie.

Ongelukkig vind Nzimande met die nuwe bewoording ‘n ander manier om Afrikaans steeds by te kom. Hy doen dit deur die erkenning van inheemsheid voorwaardelik te maak: slegs tale wat “histories ingekort” was, word deur die ANC-regering beskou as volwaardig inheems.

Dan is daar die verdere voorwaarde waardeur Nzimande ‘n taal slegs as volwaardig inheems beskou as dit deur “inheemse mense” gepraat word. Hierdie voorwaarde is heeltemal onnodig en word, op tipiese ANC-wyse, slegs ingesluit om Suid-Afrikaners te verdeel. Dit is ontwerp om universiteite en ander hoëronderwysinstellings te noop om te vra: watter studente is inheems, en watter is uitheems? Dit gaan lei tot selfs verdere verdeeldheid en polarisering op grond van etnisiteit en taal – presies wat die ANC wil hê in die aanloop tot aanstaande jaar se verkiesing.

Ten spyte van Nzimande se slinkse woordspeletjie om Afrikaans steeds binne die gewysigde definisie by te kom, is dit betekenisvol dat die DA se veldtog en openbare druk hom kon dwing om te erken dat nie alleenlik “Suid-Bantoetale” inheems aan Suid-Afrika is nie. Hierdie wysiging is belangrik omdat dit die deur oopmaak vir die nuwe regering wat na die 2024 verkiesing in beheer gaan wees om ‘n nuwe definisie in te stel wat alle inheemse Suid-Afrikaanse tale – insluitend Afrikaans sowel as Khoi- en Santale – die erkenning te gee wat hul toekom.

Gevolglik onderneem die DA dat, indien ons met behulp van kiesers tydens die 2024 verkiesing deel word van die nasionale regering, ons onmiddellik die definisie in die Taalbeleidsraamwerk sal aanpas om Afrikaans onvoorwaardelik as inheems te erken. Ons moedig daarom elke Suid-Afrikaner wat aan alle tale ‘n gelyke plek onder die son wil gee, om vandag nog te registreer om DA te stem deur te gaan na check.da.org.za.