DA betreur die afsterwe van Breyten Breytenbach

Issued by Adv. Glynnis Breytenbach MP – DA Spokesperson on Justice and Constitutional Development
24 Nov 2024 in News

Die Demokratiese Alliansie neem met leedwese kennis van die afsterwe van bekroonde Afrikaanse skrywer, digter, skilder en anti-apartheid kampvegter, Breyten Breytenbach.

Breytenbach word wyd beskou as een van Afrikaans se belangrikse digters en is deur sy lang loopbaan bekroon met onder andere die Zbigniew Herbert Internasionale Letterkunde-prys (2017) en die Alan Paton prys vir letterkunde.

In 1975 het Breyten ‘n vonnis van 7 jaar uitgedien vir hoogverraad tydens die apartheid-regime, waartydens baie van sy beste werk geskryf is.

As Dakar-ganger en vriend van Frederik van Zyl Slabbert het Breyten sy ywer vir die totstandkoming van ‘n demokratiese Suid-Afrika voorgesit en was hy tot onlangs nog betrokke by die Gorée Instituut in Dakar, Senegal, waar die aanvanklike samesprekings met die ANC plaasgevind het.

Breyten se digkuns is deurentyd gekenmerk deur menslikheid, wat die versinnebeeld van sy eie waardes en menswees was. Hy was een wat dood nie gevrees het nie, en was deeglik bewus van sy verganklikheid, wat weerspieël is in ‘n tekort aan ego en selfbelang. In een van sy laaste bundels, die na-dood, skryf hy:

wanneer dit laat word in die lewe

en die aandster reeds teen die dalende dag

se skuinstes bewe

soos ‘n hartklop

is elke kwashaal vry

elke woord onbesonne los

van sin en sinne se dop

Mag jy die uiterste vryheid nou beleef, liefste Breyten. En dankie.

Die DA dra ook ons medelye oor aan sy geliefde Yolande.