Die Demokratiese Alliansie is diep bekommerd oor ‘n video van ‘n amptenaar by die Stellenbosch Munisipaliteit wat rassistiese sienings uitspreek en klaarblyklik onwettige arbeidspraktyke bevorder.
Die DA is verbind tot nie-rassigheid.
Ons verwerp alle vorme van diskriminasie, ongeag die bron of teiken.
Die opmerkings in die opname – indien akkuraat en in konteks gerapporteer – is direk in stryd met die DA se waardes en beginsels.
Die DA trek ’n duidelike lyn tussen party en staat.
Ons is nie betrokke by kaderontplooiing nie, en verwag dat ‘n bevoegde, onafhanklike staatsdiens ons beleide implementeer waar ons regeer.
Daarom verwag ons van DA-beheerde munisipaliteite om op te tree in ooreenstemming met die grondwetlike waardes van regverdigheid en waardigheid, en in lyn met DA-beleid.
Ons sal met die politieke leierskap van die Stellenbosch Munisipaliteit in gesprek tree om die feite van hierdie saak vas te stel en om te verseker dat die toepaslike prosesse gevolg word.
Die kommentaar in die opname het geen plek in ‘n munisipaliteit onder DA-bestuur nie, en behoort nie ‘n plek in enige regering in Suid-Afrika te hê nie.
Die DA is daartoe verbind om ’n Suid-Afrika te bou waar alle aanstellings en geleenthede op meriete, bekwaamheid en regverdigheid gebaseer is, nooit op ras of politieke affiliasies nie.