As Burgemeester, moet ek my ernstige kommer oor die watersituasie in ons Munisipaliteit met u deel. Die voortslepende droogte wat ons streek teister vir meer as ‘n jaar, is nog lank nie verby nie. Klimaatsverandering het ‘n geweldige impak op ons reënpatrone die afgelope paar jaar gehad en dit het tot gevolg dat ons damvlakke kommerwekkend laag is. Die moontlikheid bestaan dat van ons damme gaan opdroog oor die volgende paar maande tensy ons buitengewone goeie reënval kry.
Tans kry Stellenbosch Munisipaliteit ongeveer 60% van sy water vanaf die Stad Kaapstad. Kaapstad het onlangs aangekondig dat hulle vlak 3B waterbeperkings ingestel het vanaf 1 Februarie 2017. Die Stad se verskerpte beperkings sluit hoër boetes, die natmaak van tuine met ‘n emmer of gieter net op sekere dae en die aanspreek van die stad se top 20 000 waterverbruikers in. Ek doen ‘n ernstige beroep op alle inwoners om waterverbruik in te perk anders sal ons verplig word om strenger op te tree teen oortreders.
Die Munisipaliteit pas hier reeds ‘n geruime tyd waterbeperkings toe. Die beperkings is in Desember verder opgeskerp. Ons spaar egter steeds nie genoeg water nie, en vind dat daar steeds baie oortreders in die Munisipale omgewing is. Die grootste aantal waarskuwings is uitgereik in die Onder Papegaaiberg, Stellenbosch en Franschhoek-areas. Alhoewel tariewe reeds aangepas is om onverskillige gebruik te verhoed, vind ons dat baie inwoners steeds nie gehoor gee aan ons oproepe nie.
Ek het onlangs met al die betrokke amptenare en die Munisipale Bestuurder vergader oor hoe om die huidige waterbeperkings af te dwing en seker te maak inwoners gee gehoor daaraan. Inwoners sal voortaan meer wetstoepassingsbeamptes gewaar wat watermisbruik in woonbuurte patrolleer. Daar gaan ook gekyk word na ‘n boetestelsel. Ons gaan meer aandag gee aan watervermorsing in informele areas. Bewusmakingsveldtogte sal ook opgeskerp word. Die Munisipaliteit spits hom daarop toe om seker te maak dat elke inwoner ingelig sal word oor waterbeperkings en die gevolge daarvan. Indien inwoners nie hul waterverbruik ernstig inkort nie, sal die Munisipaliteit ongelukkig nog meer drastiese stappe moet implementeer.
Inwoners word aangemoedig om watervermorsing aan te meld by die Munisipaliteit. Skakel asseblief 021 808 8215/8953/8261 of stuur ‘n e-pos na water.restrictions@stellenbosch.gov.za. Alle inligting word vertroulik hanteer.