Ondersteun Stellenbosch Can Projek

08 Mar 2017 in Where We Govern

 DEUR UITVOERENDE BURGEMEESTER VAN STELLENBOSCH MUNISIPALITEIT – GESIE VAN DEVENTER

Dit is weer tyd vir die jaarlikse Stellenbosch Can projek. Hierdie projek samel blikkies kos in, wat deur Stellenbosch Voedingsaksies/Stellenbosch Feeding in Action  verwerk en versprei word.  Dit is die derde jaar wat die projek plaasvind.

Die Stellenbosch Can projek strek oor die volgende drie maande en word voltooi aan die einde van Mei 2017. Skole, die Universiteit en inwoners neem deel en help samel blikkies kos in gedurende die loop van die projek. Die projek mik om hierdie jaar 20 000 blikkies kos in te samel. Die blikkies kos word dan voorberei en bedien as maaltye vir mense binne ons gemeenskap wat in nood verkeer.  Die Stellenbosch Voedingsaksie werk saam met Eikestad Mall, MFM en Eikestadnuus om hierdie projek te dryf vir die volgende drie maande.

As Burgemeester, was dit my voorreg om die eerste blikkies in te gooi by die versamelpunt in Eikestad Mall. Hierdie inisiatief dra ongelooflike waarde by tot ons gemeenskap. Die voorsiening van voeding val nie binne die plaaslike regeringsmandaat nie, en kan ons volgens die wet nie ‘n begroting daaraan toe wys nie. Daarom is die inisiatiewe van privaat organisasies en instansies so belangrik. Ek ondersteun graag hierdie projek en onderneem om deur die loop van die volgende drie maande gereeld blikkies te gaan skenk by versamelpunt by die Eikestad Mall.

Ek doen dan ook ‘n beroep op inwoners om hierdie projek te ondersteun. Help asseblief ons mense in nood.  Ons gaan ook versamelpunte binne die Munisipaliteit aanbring, sodat enige munisipale personeel wat ‘n skenking wil maak, dit vinnig en effektief kan doen. Ons gaan dan ‘n interdepartementele kompetisie hê om te kyk watter departement die meeste blikkies gaan versamel.  Ek en my Burgemeesterskomitee gaan verseker mee ding!