Met die voortslepende droogte en die huidige winterreënval wat minder is as wat aanvanklik voor gehoop is, was dit genoodsaak om waterbeperkings in die Stellenbosch munisipale area op te stoot na vlak 4B.
Stellenbosch Munisipaliteit is reeds onderhewig aan Vlak 4A waterbeperkings sedert 1 Julie 2017. Die Munisipaliteit is ook tot rampgebied verklaar as gevolg van die droogte. Die verhoogde beperkings dra by tot die effektiewe bestuur van die rampsituasie. Die groot verskil tussen vlak 4A en 4B is die beperking van watergebruik tot 87 liter per dag per persoon. Onder vlak 4A was dit 100 liter per dag per persoon gewees.
Vlak 4B waterbeperkings sal vanaf 17 Julie 2017 van toepassing wees. Die munisipaliteit sal die inligting via die media asook pamflette en advertensies versprei na alle inwoners.
Inwoners word gewaarsku om asseblief onmiddellik hul maandelikse watergebruik in te perk tot onder 20kl per huishouding per maand. Meer verbruik sal lei tot ernstige waterrekeningverhogings. Die nuwe watertariewe geld reeds vanaf 1 Julie 2017. Indien inwoners nie ag slaan op hul verbruik nie, sal hul ‘n onaangename hoë rekening in August ontvang.
Inligting rakende die nuwe tariewe is beskikbaar op die Munisipaliteit se webblad (www.stellenbosch.gov.za) of u kan die Munisipaliteit direk skakel by 021 808 8531. Rapporteer asseblief enige watervermorsing onmiddellik aan die munisipaliteit. Om wateroortredings aan te meld kan u 021 808 8215/8953 skakel. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.
Waterbesparing is ons almal se verantwoordelikheid. Help ons asseblief anders gaan ons na Mei 2018 geen water beskikbaar hê nie.