Beste Presteerders in matriek aan die Weskus vereer

03 Mar 2020 in Where We Govern

Die Burgemeester van die Weskus Distriksmunisipaliteit, Raadsheer Harold Cleophas, het die graad 12 leerders, wat die beste presteer het by hul onderskeie skole, vereer vir hul uitmuntende akademiese prestasies na afloop van die 2019 eksamens. Tydens die toekenningsgeleentheid, wat jaarliks plaasvind, was die leerders deur Dr Demore Pretorius toegespreek.  Hy het hulle inspireer om nog groter hoogtes te bereik. “ Dit is slegs die begin van baie goeie dinge vir julle. Maak die beste van die geleenthede wat julle kry en julle sal die vrugte van julle harde werk pluk” het hy gesê.

Tydens sy toespraak aan die leerders het die Burgemeester beklemtoon dat ons gemeenskappe meer plaaslike helde en rolmodelle benodig. “ Julle is die trots van die Weskus omdat julle jul ouers, familie, jul gemeenskap en skool se naam hoog gehou het. Julle harde werk en toewyding kan nie ongesiens verbygaan nie”, het die Burgemeester aan die presteerders gesê.

Die Burgemeester se tema vir sy termyn is “Om die sosiale verval in gemeenskappe te herstel” deur projekte in gemeenskappe te loods wat ‘n verskil in mense se lewens maak. Ek weet daar is baie uitdagings wat aandag moet geniet en ek is bewus dat dit tyd gaan neem om elkeen aan te spreek, maar ons vertrou dat vandag ‘n tree in die regte rigting is. Wanneer ons in opvoeding van jong mense belê, belê ons in die toekoms van ons land” het die Burgemeester gesê.

Die Weskus onderwysstreek het ook ‘n toename getoon in die getal onderskeidings wat behaal is en Heather van Ster, Direkteur by WKOD, het die leerders, skoolhoofde en onderwysers bedank vir hul harde werk. “Ons is heeltemal bewus daarvan dat daar skoolhoofde en onderwysers is wat alles in hul vermoë doen om te verseker dat leerders hul volle potensiaal bereik. Baie van ons leerders en onderwysers moet onder moeilike omstandighede funksioneer en dit maak die prestasies soveel soeter” het sy bygevoeg.

Elke leerder het ‘n verdienstelikheid-sertifikaat en geskenkpak vanaf die Burgemeester ontvang.

Die Burgemeester, Raadsheer Harold Cleophas, saam met die top leerders van elke Hoerskool in die Weskus streek.
Op die foto van links: Heather van Ster, Direkteur WKOD, Frank Mouton (Swartland) ; Portia Deyi (llingelethu) ; Anneke Smith (Wesbank), Ashlynn Jade Arendse (Schoonspruit) en Raadsheer Harold Cleophas (Uitvoerende Burgemeester WDM). Hierdie leerders was die beste leerders by die onderskeie skole in Kring 1.
Van links, Heather van Ster, Direkteur WKOD; Louwrens Smit (Dirkie Uys); Marinda Nelson (Piketberg); Benzien Jantjies (Steynville). Hierdie leerders was die beste presenteerders by hul onderskeie skole in Kring 2.