Honderde bejaardes neem deel aan Goue Spele

03 Mar 2020 in Where We Govern

Die Weskus Distriksmunisipaliteit se jaarlikse “Golden Games” het weereens vir groot opwinding gesorg. Ongeveer 750 deelnemers, almal ouer as 60 jaar oud, het aan die spele deelgeneem. Hierdie jaar se spele, wat  by Voorberg Korrektiewe Fasiliteite te Porterville plaasgevind het, was ‘n geskiedkundige gebeurtenis omdat gevangenis van die Voorberg Bestuursgebied ook aan die spele kon deelneem.

Die Goue spele word aangebied in samewerking met die Wes-Kaapse Provinsiale Regering asook die plaaslike munisipaliteite in die Weskus distrik. Senior burgers, van regoor die Weskusdistrik, neem deel aan verskeie rekreasie- en sportaktiwiteite. Van die deelnemers het ook al deurgedring om die Wes-Kaap by die Nasionale Goue Spele te verteenwoordig.

Die Uitvoerende Burgemeester van WDM, Raadsheer Harold Cleophas, is passievol oor die projek en het weereens die munisipaliteit se toewyding tot die projek beklemtoon. Die Golden Games gee effek aan die Burgemeester se tema van “Restoring the Social Fabric in Communities” deurdat dit bejaardes bymekaar bring.  “Dit is vir my ‘n riem onder die hart om te sien hoe ons seniors, van regoor die weskusstreek, met passie aan die items deelneem en ook hoe hulle nuwe maats maak. Dit is belangrik dat ons rekreasie-projekte alle ouderdomsgroepe bereik en daarom is die Golden Games so spesiaal vir my” het die Uitvoerend Burgemeester Harold Cleophas gesê.

Die Burgemeester het alle amptenare en borge bedank en ook vir Bergrivier munisipaliteit en Voorberg Korrektiewe Dienste uitgesonder, wie die jaar as gasheer opgetree het, vir hul ondersteuning en betrokkenheid.

Silwerblaar Bejaardeklub van Hopefield en Green Lillies van Vredenburg was van die klubs in die Saldanhabaai munisipale area wat die meeste medaljes ingepalm het. Aldern Dreyden van Silwerblaar, wie ook aan die spele deelgeneem het, sê die Golden Games het weereens aan alle verwagtinge voldoen. “ Ek moet ‘n pluimpie gee aan almal wie betrokke was met die reëlings. Dit was ‘n fatastiese dag en ons voorbereiding vir die onderskeie items het vrugte afgewerp. Ons klub kon altesaam 24 medaljes huis toe bring” het Dreyden gesê.

Lede van die Silwerblaar Bejaardeklub spog met hul medaljes.