WDM vier 100ste Raadsvergadering

03 Mar 2020 in Where We Govern

Op 27 Maart 2019 het Weskus Distriksmunisipaliteit sy 100ste Algemene Raadsvergadering gehou. WDM, voorheen bekend as die Afdelingsraad, het sy ontstaan reeds in 1976 toe die Weskus uit Van Rhynsdorp, Clanwilliam, Piketberg en Malmesbury Afdelingsrade bestaan het. Hierdie rade het in 1989 saamgesmelt om die Weskus Streeksdiensteraad (SDR) te vorm wat vandag bekend is as Weskus Distriksmunisipaliteit.

WDM is een van die voorste distriksmunisipaliteite in die land met verwysing tot goeie administrasie en het onlangs sy agtste skoon oudit van die Ouditeur-Generaal ontvang. Die Uitvoerende Burgemeester, Raadsheer Harold Cleophas, is sedert 2011 aan stuur van die munisipaliteit. Die kantoor van die Burgemeester se fokus is om die sosiale norms en waardes, wat oor tyd in gemeenskappe verlore geraak het, te herstel. Bejaardes, jeugdiges en kleuters vind baat by verskeie uitreik- en opvoedkundige projekte van die munispaliteit. Dit is veral die Goue Spele vir bejaardiges, die jaarlikse verering van die beste graad 12 leerders in die streek en ‘n uitruilprojek tussen die Weskus Distriksmunisipaliteit en Duitsland wat as vlagskip projekte van die munisipaliteit beskou word.

WDM se ander hoogtepunte sluit in werkskepping vir plaaslike individue deur die Uitgebreide Publieke Werke Program (EPWP), benoeming as mees verbeterde distriksmunisipaliteit vir lugkwaliteit gedurende 2015/16 en Bloudruppel status vir waterkwaliteit (2010, 2011, 2012).

Tydens die 100ste Algemene Jaarvergadering het die Burgemeester die personeel en raad bedank vir hulle samewerking en oorgawe waarmee hulle die gemeenskappe van die Weskus dien. “Dit is vir my ‘n groot eer en voorreg om aan stuur van so ‘n suksesvolle munisipaliteit te wees waar ons almal saamwerk tot vooruitgang van die weskus gemeenskappe” het die Burgemeester gesê. Hy het die Uitvoerende Bestuur, onder leiding van die Munisipale Bestuurder, David Joubert, bedank vir hul administratiewe leiding en ondersteuning.

Raadslede tydens die 100ste Raadsvergadering van WDM.