DA loods petisie om moedertaalonderrig aan die Universiteit Stellenbosch te beskerm

Issued by Dr Leon Schreiber LP – DA Kiesafdelingshoof: Stellenbosch
22 Mar 2021 in News

In die gees van Menseregtedag, het die Demokratiese Alliansie (DA) vandag ‘n petisie geloods om die reg tot moedertaalonderrig aan die Universiteit van Stellenbosch (US) te beskerm teen aanhoudende aanvalle deur die universiteitsbestuur.

Ondersteun die petisie hier.

Elke handtekening op hierdie petisie dui ook op ‘n persoon wat die DA se kommentaar op die Maart 2021 konsepbeleid ondersteun. Die DA sal die petisie, die kommentaar, tesame met die lys van alle persone wat dit ondersteun, direk aan die US indien.

Die US-bestuur se oorlog teen moedertaalonderrig het oor die afgelope paar weke selfs meer fel geword, nadat eerstejaarstudente aan verskeie koshuise verbied is om Afrikaans te praat in hul koshuiskamers en selfs op parkiebanke op kampus.

Die huidige US-bestuur, onder leiding van rektor Wim de Villiers, se anti-Afrikaanse onderrok het selfs verder uitgehang weens die universiteit se weiering om op te tree ter verdediging van die betrokke studente se grondwetlike reg tot moedertaalonderrig en om hul eie taal te praat. De Villiers het tot op hede nog nie ‘n enkele woord gerep oor die skending van hierdie studente se menseregte nie.

Vrydag het die universiteit ook ‘n verdere afwyking van die 2016 taalbeleid goedgekeur wat geheel en al wegdoen met die laaste bietjie Afrikaanse versierings in lesinglokale. Enige persoon wat glo dat hierdie slegs-Engels beleid tydelik van aard gaan wees, hou hulle blind vir die aanhoudende aanvalle deur die De Villiers regime op Afrikaans. Dit is gister gevolg deur die publisering van die US se nuwe konseptaalbeleid, wat die Afrikaanse aanbod selfs verder afwater.

Omdat ons die reg tot moedertaalonderrig as net so belangrik beskou as enige ander mensereg, het die DA reeds ‘n klag by die Menseregtekommissie (MRK) aanhangig gemaak. In die klag versoek ons ook dat die MRK die rol van die universiteit se 2016 taalbeleid ondersoek, aangesien hierdie beleid amptelik aan Afrikaans ‘n mindere status gegee het wat skynbaar bygedra het tot die huidige atmosfeer van diskriminasie teen Afrikaanse studente.

Gegewe die menseregtevergrype wat onder die 2016 taalbeleid teen Afrikaanse studente gepleeg is, dring die DA se petisie daarop aan dat die taalbeleid hersien word met die doel om aan Afrikaans gelyke status naas Engels in alle aspekte van die universiteitslewe te waarborg. Ons moedig elke Suid-Afrikaner wat verbind is tot ons Grondwetlike bestel aan om hierdie petisie te onderteken.

Die petisie gaan aan die bestuur oorhandig word, en word ook vergesel van omvattende voorgestelde wysigings aan die nuwe konseptaalbeleid. Elke persoon wat die petisie teken sal dus ook hul steun toesê aan die voorgestelde wysigings. Hoe meer mense die DA se kommentaar ondersteun, hoe moeiliker gaan dit wees vir die US-bestuur om voort te gaan met hul planne om weer van Afrikaans ‘n kombuistaal te maak.

Weens die DA se toewyding aan die taalregte en ander menseregte soos vervat in ons land se Grondwet, en weens ons diepe kommer oor die uitsluiting van miljoene behoeftige Afrikaanssprekendes van hoër onderwys, eis ons dat:

1. Die eerste konsep van die nuwe taalbeleid van Maart 2021 onomwonde verwerp word omdat dit Afrikaanse studente selfs verder gaan uitsluit. Die US behoort die proses om die taalbeleid te hersien van voor af te begin deur onmiddellik ‘n openbare konferensie te reël waar alle belanghebbendes ‘n geleentheid gebied word om die tekortkominge van die 2016 taalbeleid te bespreek met die oog op ‘n nuwe taalbeleid wat ‘n gelyke plek aan Afrikaans sal waarborg;

2. Enige nuwe taalbeleid ‘n regverdige taalbedeling tot stand te bring wat aan Afrikaans en Engels gelyke status waarborg as primêre tale van onderrig, leer en leef in alle ruimtes – insluitend aanlyn ruimtes – van die universiteit;

3. Indien die universiteit bekommerd is oor die kostes hieraan verbonde, die universiteit ‘n omvattende en onafhanklike oudit laat doen oor die kostes verbonde daaraan om gelyke status te waarborg aan Afrikaans, die uitslae van die oudit openbaar maak, en aan skenkers, die privaatsektor en die breër gemeenskap die geleentheid bied om ‘n gedeelte van die kostes te finansier;

4. Die US die moontlikhede wat gebied word deur moderne digitale tegnologieë, waaronder aanlyn hulpmiddels en “spraak-na-teks” tegnologie, ten volle benut om akkurate vertaling tussen verskillende tale te verseker;

5. Gegewe die wyse waarop die Afrikaanse aanbod in die leer en leefruimtes van die universiteit afgeskaal is oor die afgelope jare, die universiteit se nuwe taalbeleid uitdruklik onderneem om die Afrikaanse aanbod opwaarts aan te pas om volle toegang te verseker aan alle verdienstelike voornemende studente wat verkies om in Afrikaans te studeer terwyl volle toegang vir Engelssprekende studente gehandhaaf word;

6. Die nuwe taalbeleid die universiteit daadwerklik daartoe verbind om finansiële sowel as praktiese ondersteuning te verskaf aan leerders in Afrikaanse skole in laer inkomste gebiede, met die doel om ‘n pyplyn te bou wat Afrikaanssprekende studente uit hierdie skole na die US bring en sodoende die deelname en slaagsyfer van behoeftige Afrikaanssprekende studente aan die US dramaties verhoog.

Local Government Elections are coming up in 2021! Visit check.da.org.za to check your voter registration status.