DA bekommerd oor die Art 25 Ad Hoc-komitee se versoek  om die sperdatum uit te stel

Issued by Dr Annelie Lotriet LP – Voorsitter van die DA se Parlementêre Koukus
31 May 2021 in News

Vind asseblief aangeheg ’n Afrikaanse klankgreep Dr Annelie Lotriet LP.

Die Demokratiese Alliansie (DA) is gekant teen die Artikel 25 ad hoc-komitee se versoek vir uitstel van die sperdatum vir voorlegging van hul finale verslag, welke sperdatum om middernag vandag verstryk.

Die uitstel word versoek omdat die ANC en die EFF nog nie ooreengekom het oor radikale voorstelle wat hulle in die wysingswetsonwerp probeer insmokkel nie, soos onder meer die verwydering van die howe uit die geskilbesleggingsproses.

Die oponthoud is onnodig, en kon voorkom gewees het as die ANC nie in die eerste plek geswig het voor populistiese vurigheid en die wysiging aan die Grondwet voorgestel het nie. In plaas daarvan om hul eie tekortkominge in grondhervorming aan te spreek het die ANC gekies om eerder die Grondwet te blameer, en sodoende die deur oopgemaak vir die veglustige EFF, wie graag die fondasies van ons demokrasie wil vernietig.

Die DA verwerp steeds ten sterkste die voorgestelde wysiging van Artikel 25, wat reeds in sy huidige formaat genoegsame voorsiening vir grondhervorming maak. Die ANC, wat kop in een mus is met die EFF, gebruik nou hul kans om wysigings in te smokkel wat nie net Suid-Afrikaners se eiendomsregte benadeel nie, maar ook die reg om gelyke beskerming voor die Reg.

Deur wysigings voor te stel wat die howe uit die onteieningsproses uitsluit, is die ad hoc-komitee besig om buite hul grondwetlike perke op te tree, aangesien die Parlement nie aan die howe mag voorskryf watter sake hul mag en nie mag aanhoor nie. Die DA staan sterk gekant teen enige poging om die rol van ons howe te verminder, omdat dit burgers se beskerming teen die aksies van die staat sal verswak.

Hierdie ongrondwetlike optrede van die ad hoc-komitee is maar slegs die jongste voorval, en is simptomaties van ‘n komitee wat reeds van die begin af sy perke gereeld oorskry het – onder andere deur substansieël af te wyk van die oorspronklike wysigingswetsontwerp wat in die Staatskoerant gepubliseer is. Die wet skryf voor dat materiële veranderinge aan die gepubliseerde wetsontwerp eers weer na die Parlement en na ‘n openbare deelname proses verwys moet word.

Die ANC is nou besig om radikale toegewings aan die EFF te probeer maak, ten einde hulle steun te werf vir die wysiginswetsontwerp, wat ‘n twee-derdes meerderheid in die Nasionale Vergadering benodig. Hulle optrede is nie net roekeloos nie, maar ook insiggewend, en illustreer duidelik hoe hulle die kwessie van grond gebruik om politieke punte te wen ten koste van die land se ekonomiese stabilitiet.

Die Parlement het ‘n verantwoordelikheid om die Grondwet te beskerm en die oppergesag van die Reg te respekteer. As ‘n beginselsaak moet dit die ad hoc-komitee se verslaag verwerp omdat die voorgestelde wysigings aan die Grondwet die regte van burgers en ook die skeiding van magte tussen die Nasionale Vergadering en die Gereg verontagsaam.

Local Government Elections are coming up in 2021! Visit check.da.org.za to check your voter registration status.