DA dien menseregteklag in teen Blade Nzimande nadat Afrikaans as ‘uitheems’ geklassifiseer is

Issued by Dr Leon Schreiber LP – DA Kiesafdelingshoof: Stellenbosch
27 Sep 2021 in News

Vind aangeheg ‘n klankgreep van dr. Leon Schreiber LP en die DA se klag teen Nzimande.


Die DA het vandag ’n klag by die menseregtekommissie ingedien teen die minister van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie, Blade Nzimande, ná sy haatdraende en ongrondwetlike aandrang dat Afrikaans as ’n “uitheemse” taal in Suid-Afrika geklassifiseer word.

Die DA se klag volg op die uitspraak van die Grondwethof in die Unisa-taalgeding, wat onlangs pertinent uiteengesit het dat Afrikaans as inheems in ons konstitusionele reg beskou word. Deur aan te hou om die hof in dié verband te minag, ondermyn Nzimande die reg tot moedertaalonderrig en oortree hy die regte van Afrikaanssprekendes op waardigheid en gelykheid.

Vroeër vanjaar het die DA onthul dat Nzimande in die jongste taalbeleidsraamwerk vir openbare hoëronderwysintellings Afrikaans uitgesluit het in sy definisie van inheemse tale. Die beleid maak slegs voorsiening vir tale wat “aan die suidelike Bantoe-taalfamilie behoort” as inheems. Hierdie foutiewe, onwetenskaplike en skadelike uitsluiting van Afrikaans is reeds by die Universiteit Stellenbosch gebruik om ’n agenda te bevorder wat Afrikaans by dié instelling uitrangeer.

Die DA het reeds voorheen aan Nzimande geskryf en gevra dat die definisie aangepas word sodat Afrikaans as inheemse taal erken kan word en dieselfde status geniet as alle ander inheemse Suid-Afrikaanse tale. Nzimande het ons versoek geïgnoreer en ons het nou ons korrespondensie na die menseregtekommissie verwys as bewys dat Nzimande moedswillig en doelbewus teen Afrikaans diskrimineer.

Uit beide ’n wetenskaplike en wettige perspektief is daar bloot geen twyfel dat Afrikaans net so inheems tot Suid-Afrika is as die kokerboom en die protea nie.

Dit is deur regter Steven Majiedt bevestig toe hy die Grondwethof se uitspraak gelewer het dat Afrikaans weer by Unisa ingestel moet word. Majiedt erken die belangrike rol wat gespeel is deur mense wat inheems is en aan slawerny onderworpe was in die ontwikkeling van Afrikaans, en verwys uitdruklik na “inheemse tale, insluitend Afrikaans”. Regter Majiedt verwerp ook die karakterisering van Afrikaans as “die taal van die onderdrukker” en dat hierdie idee lynreg indruis teen “die ware geskiedenis van Afrikaans se oorsprong en ontwikkeling”.

Deur aan te hou om Afrikaans uit die definisie van inheemse tale te sluit, weens oënskynlik ideologiese en politieke redes, tart Nzimande die Grondwet uit en ondermyn hy aktief taal- en menseregte tot die punt waar die waardigheid en gelykheid van Afrikaanssprekendes geskend word. Die DA doen ’n beroep op die menseregtekommissie om vinnig en beslissend teen Nzimande op te tree om te verseker dat Afrikaans sy regmatige plek as amptelike, inheemse Suid-Afrikaanse taal kan inneem.

As Nzimande vir een oomblik ophou om teen sy ideologiese oogklappe vas te kyk, sal hy eerder ons land se diversiteit omhels deur ag te slaan op Majiedt se beskrywing van Afrikaans as ’n “heterogene, reënboogtaal” wat ’n “wonderlike paradoks van menslike vindingrykheid en kreatiwiteit bevat…[Afrikaans] is die taal van almal wat hom praat en leef ewe gemaklik tussen die akademie en die beroepswêreld aan die een kant en alledaagse gebruik aan die ander kant,” aldus Majiedt.