Dis ’n desperate leuen dat die DA Kaapstad se gholfbane sal “sloop” om “krotbuurte” te skep

Issued by Cilliers Brink LP – DA se Skaduminister van samewerkende regering en tradisionele sake
08 Oct 2021 in News

Vind asseblief aangeheg Afrikaanse en Engelse klankgrepe van Cilliers Brink LP.

Diegene wat insinueer dat die DA Kaapstad se gholfbane wil “sloop” om dit in “krotbuurte” te omskep probeer doelbewus die publiek mislei. Die DA is nie van plan om gholfbane of enige ander sport- of ontspanningsgeriewe te sloop nie.

Die inwoners van Kaapstad hoef net na ons bestuursrekord van die afgelope 15 jaar te kyk om te sien dat die DA nog nooit enige sport- en ontspanningsgeriewe van Kaapstad gemeenskappe weggeneem het nie – ons sal dit ook nooit doen nie. In werklikheid is daar geen beter plek as Kaapstad om in eiendom te belê nie, juis omdat die DA privaat eiendomsreg beskerm. Kiesers hoef net na die DA se leidende rol in die stryd teen onteiening sonder vergoeding te kyk as bewys.

Die enigste ontwikkeling wat tans beplan word op grond wat voorheen as ’n gholfbaan in Kaapstad gebruik is, is die R4.5 miljard Amazon-belegging by die River Club. En dit is heel duidelik die verste denkbare ding van ’n “sloping” om ’n “krotbuurt” te vestig. Dié ontwikkeling sal duisende nuwe werksgeleenthede vir die inwoners van Kaapstad bied. Die Stad Kaapstad hou ook al reeds maande lank uitgebreide gemeenskapskonsultasies oor die moontlikheid om die Mowbray- en Rondebosch-gholfbane, wat oorkant mekaar geleë is, te kombineer. Indien die gemeenskap besluit om voort te gaan met hierdie projek, sal waardevolle grond beskikbaar gestel word vir ’n ekstra werkskeppende ontwikkeling.

Nêrens in Kaapstad of in die res van die land het die DA planne om gholfbane in krotbuurte te verander nie, en dit is absurd en desperaat van enige party om dit as sulks voor te hou.

Enige party wat werklik ernstig is daaroor om te regeer moet die dringende nood om meer behuisingsopsies in Kaapstad te bied erken, en ophou om vals inligting te versprei. Om die behoefte aan meer behuising in Kaapstad te ignoreer is nie net wreed teenoor die duisende Kapenaars wat nie voldoende huisvesting het nie, maar sal ook lei tot ’n ontploffing van grondgrype en dakloosheid wat uiteindelik almal se eiendomswaarde ernstig sal benadeel.

Juis daarom het die DA ’n duidelike en omvattende plan ter tafel gelê om duisende nuwe behuisingsgeleenthede te bied deur die minister van openbare werke in die ANC-regering, Patricia de Lille, te oortuig om mega-eiendomme soos Acacia Park en militêre terreine soos Ysterplaat, Wingfield en Youngsfield vry te stel vir ontwikkeling. Die grond wat deur De Lille en haar ANC-kollegas beheer word, beslaan meer as 700 hektaar – 72 keer meer grond as wat die stad besit met die potensiaal om tussen 43 000 en 234 000 nuwe huise in samewerking met die privaat sektor te ontwikkel.

Die DA se plan is ’n duidelike wen-wen-benadering vir huidige en toekomstige eiendomseienaars. Deur hierdie 700 hektaar te ontwikkel, sal behoefitge Kapenaars van ordentlike, formele behuising voorsien word, terwyl die risiko van grondgrype in die stad verminder.

Dit is tyd dat opposisiepartye eerlik is oor die DA se uitmundende rekord om eiendomsreg te beskerm, in plaas daarvan om populistiese leuens te versprei en die risiko van grondgrype en die impak van die behuisingsnood in Kaapstad te ignoreer.