VF Plus verraai landelike gemeenskappe deur téén noodsaaklike plaasveiligheidshervormings te stem

Issued by Willie Aucamp LP – DA Nasionale Woordvoerder en DA Landbou Woordvoerder
16 Jul 2025 in News

Klankgreep deur Willie Aucamp LP.

Die Vryheidsfront Plus het gister gewys tot watter uiterstes hulle bereid is om te gaan om politiek relevant te bly – selfs al beteken dit om teen die belangrikste landelike veiligheidshervormings te stem wat nóg deur die Parlement aanvaar is.

Ten spyte daarvan dat hulle nie ’n enkele vergadering van die gesamentlike portefeuljekomitees oor Polisie en Landbou bygewoon het gedurende die maande-lange opstel van hierdie verslag nie, en geen belangstelling in die proses getoon het nie, het die VF Plus gister saam met die EFF en MK Party gestem téén ’n historiese gesamentlike verslag oor plaasaanvalle en landelike misdaad.

Ongeag die VF Plus, EFF en MK-party se teenstem, is hierdie verslag wel deur die parlement aanvaar.

Die verslag bevat historiese en praktiese aanbevelings wat landelike gemeenskappe – insluitend boere, plaaswerkers en plattelandse inwoners van alle rasse – direk sal bevoordeel. Dit is die eerste keer dat die Parlement amptelik die werklikheid, erns en brutaliteit van plaasaanvalle erken en ook landelike geweld en veediefstal en in ’n multi-partykomiteeverslag erken.

Dit is ’n fundamentele stap in die regte rigting. Al is daar steeds baie werk oor om ons landelike gemeenskappe werklik veilig te maak, is die aanvaarding van hierdie verslag ’n uitstekende begin.

Tog het die VF Plus, in ’n daad van suiwer politieke opportunisme, hierdie belangrike hervormings wat die mense op ons plase dringend nodig het, verwerp.

Hierdie aanbevelings sluit onder meer in:

  • ’n Gespesialiseerde Landelike Veiligheidseenheid binne SAPD, wat formeel gevestig en befonds word;
  • ’n Nasionale oudit van landelike polisiëringsvermoë, insluitend voertuie, personeel en operasionele gereedheid;
  • Beter samewerking tussen SAPD en gemeenskapsveiligheidstrukture soos plaaswagte en buurtwagte;
  • Sterker intelligensie, oorgrens-misdaadkoördinering, en aksie teen gesindikeerde veediefstal;
  • Dringende optrede om die swak skuldigbevindingskoers in ons howe aan te spreek deur beter skakeling tussen die polisie en staatsaanklaers te bewerkstellig.
  • Hulpverlening aan kwesbare boere, insluitend opkomende boere van alle rasse sonder toegang tot privaat-sekuriteit;
  • ’n Vereiste dat SAPD landelike misdaadstatistiek apart moet kategoriseer vir beter toesig en reaksie.

Hierdie is nie ideologiese voorstelle nie. Dit is praktiese oplossings wat voortvloei uit bewys-gebaseerde gesprekvoering en samewerking met belanghebbendes oor die volle spektrum van landelike veiligheid. Deur daarteen te stem, het die VF Plus effektief teen landelike veiligheid gestem.

In ’n desperate poging om die verslag te verdraai, het die VF Plus vasgesteek by ’n enkele aanbeveling wat vra vir parlementêre toesig om alle landelike inwoners – insluitend plaaswerkers – teen enige vorm van uitbuiting of intimidasie te beskerm.

Dit is nie ’n “blamering van boere” nie – dit is basiese menseregte-toesig en ’n oproep vir gebalanseerde en regverdige beskerming vir almal. Om dit in ’n politieke wapen te verdraai, is oneerlik en uiters onverantwoordelik.

Die Demokratiese Alliansie (DA) glo dat ons boere absoluut niks het om weg te steek nie, en dat die uitbuiting van plaaswerkers geensins ’n norm is in Suid-Afrika nie. Die oorgrote meerderheid boere is wetsgehoorsame landsburgers wat onder uiters moeilike omstandighede werk skep, voedselsekerheid verseker en hul gemeenskappe ondersteun.

Die DA ondersteun hierdie verslag en sy aanbevelings as ‘n eerste tree deur die parlement om plaasaanvalle en landelike veiligheid aan te spreek.

Ons sal nie toelaat dat politieke opportunisme die stryd teen plaasmoorde, veediefstal en landelike misdaad ontspoor nie. Die lewe van elke boer en plaaswerker in ons landelike gebiede maak saak.

Die DA sal toesien dat die verslag se aanbevelings geïmplementeer word en dat geen party se politieke speletjies in die pad staan van veiliger landelike gemeenskappe nie.